|

Danksy AfriForum bly Afrikaans by Unisa ná lang hofstryd

Saamgestel deur Forum Nuus

Die burgerregte-waghond AfriForum het vandag ’n tweede oorwinning in die hof behaal nadat hulle die vyf-jaar-lange stryd om Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te hou, met koste gewen het. Dié organisasie het ook vandag sukses in die appèlhof in Bloemfontein behaal toe die Departement van Toerisme se ekwiteitsfonds (TEF), wat volgens swart ekonomiese bemagtiging (SEB) se kriteria fondse aan besighede in die toerismebedryf toegeken het, as onwettig verklaar is.

Die Konstitusionele Hof het vandag ’n eenparig beslissing ten gunste van AfriForum in die saak vir die behoud van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal by Unisa gemaak. Die volledige uitspraak is nog nie beskikbaar nie.

Regter Steven Majiedt het die appèlhof se vorige uitspraak grotendeels gehandhaaf. Dié uitspraak het bevind dat Unisa se huidige taalbeleid, wat slegs vir Engels as primêre medium van onderrig voorsiening maak, ongrondwetlik en onregmatig is.

Unisa het na raming meer as 20 000 Afrikaanssprekende studente en volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, word hierdie as ’n reuse-oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en ook taalregte in die land beskou.  

“Dit is belangrik dat daar uiteindelik erken word dat toegang tot tersiêre studie uitgebrei moet word om nie net ruimte vir eerstetaal Engelssprekendes te skep nie, maar meer moedertale te akkommodeer. Unisa het onlangs juis weer Afrikaans uitgesluit uit planne om personeel en studente aan te moedig om meer tale te bemeester. Die uitspraak beklemtoon dat Afrikaans ook ’n plek op staatsondersteunde kampusse het,” sê Bailey.

Die Konstitusionele Hof in Bloemfontein. Foto: AfriForum.

Soortgelyke plasings