|

Nuuskommentaar: Werk en staan saam om kragkrisis op te los

Suid-Afrika het in 2022 vir ongeveer 200 dae beurtkrag gehad en die vooruitsig vir 2023 lyk nie veel beter nie. Landsburgers het reeds derduisende rande verloor weens die voortslepende kragkrisis en al hoe meer mense wil onafhanklik van Eskom word om beurtkrag vry te spring. Met berigte oor die naweek dat beurtkrag vir die volgende twee jaar ingestel gaan word, is die tyd nou meer as ooit ryp vir kundiges om kragte saam te snoer om te help om die kragkrisis die hoof te bied.

AfriForum het vandeesweek bekendgemaak dat die organisasie ’n driefaseplan opgestel het om te help om die kragkrisis op te los. Dié plan staan bekend as Projek AfriEnergie.

Met fase een wil die organisasie fokus op korttermynoplossings soos om verbruikers met die relevante inligting te voorsien om heeltemal of gedeeltelik onafhanklik van Eskom te word. ’n Verslag hieroor is ook bekendgestel waarin inligting oor sonkrag beskikbaar is. AfriForum gaan ook tydens dié fase die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) in die hof pak om die elektrisiteitsverhoging van 18,65%, wat vuisvoos verbruikers onder nog meer druk gaan plaas, teen te staan.

Tydens fase twee moet dorpe en gemeenskappe gehelp word om nie verplig te word om elektrisiteit direk van hul munisipaliteite aan te koop nie, maar dit self te bestuur deur dit te privatiseer. Hier gaan die model wat Rural Free State gebruik, wat die afgelope tien jaar reeds die dorpe in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit se kragvoorsiening suksesvol bestuur, nagevors word sodat dit toegepas kan word. 

Fase drie is ’n langtermynplan waartydens navorsing gedoen gaan word oor die moontlikhede van kernkragenergie. Beleggers – plaaslik en internasionaal – gaan in hierdie projek moet belê sodat modulêre korrelbedreaktors vervaardig kan word in ’n poging om elektrisiteitsopwekking te desentraliseer. AfriForum is reeds in gesprek met André Pienaar, energiemagnaat, om met kernkragtegnologie ’n oplossing te ontwikkel.

Hierdie gaan egter nie ’n kitsoplossing wees vir die land se reusekragkrisis nie, maar eerder ’n langtermynplan om van beurtkrag ontslae te raak en te sorg dat die land en die ekonomie nie geheel en al in duie stort nie.

Dit is tog logies dat jare se korrupsie en gebrek aan instandhouding nie in enkele maande reggestel kan word nie.

Die land se kragkrisis het lank voor staatskaping begin en Suid-Afrikaners (oor)leef die afgelope 16 jaar met beurtkrag sonder ’n tasbare oplossing vanuit die regering of Eskom. ’n Mens wonder egter of die land in hierdie groot krisis gedompel sou wees indien die regering vroeër geluister het toe kenners gewaarsku het dat die kragnetwerk onder druk gaan verkeer weens die groeiende bevolking.

Terwyl AfriForum en ander organisasies nou beplan en werk om oplossings te vind, kan die regering ook help om beurtkrag te verminder deur te onderhandel met mense wat van alternatiewe krag gebruik maak sodat surplus krag aan hulle munisipaliteite of Eskom gelewer kan word.

Een van baie sulke voorbeelde is Wynand Human, ’n boer van Douglas in die Noord-Kaap, wat reeds R50 miljoen bestee het om ’n mini-sonkragstasie op sy plaas op te rig sodat hy in die somer sy lande kan besproei. Hy kan egter nie die oorskot wat hy in die winter het aan Eskom verkoop nie aangesien die kragreus weier om met hom ’n ooreenkoms aan te gaan.

Indien daar dringend gekyk kan word hoe hierdie tipe uitdagings uit die weggeruim kan word, kan die regering en Eskom op so ’n manier bydra om beurtkrag te verminder.

Daar kan egter nie meer vir die regering gewag of op hulle gesteun word om die krisis op te los nie. Hulle het reeds 16 jaar gehad om die erge krisis waarin ons ons tans bevind die hoof te bied. Suid-Afrikaners gaan moet saamstaan en -werk om die kragkrisis op te los.

Soortgelyke plasings