|

7 000 mense deel van AfriForum se veiligheidstrukture

“As ons vooruit beplan, beter organiseer en aanpas dan kan ons meer doeltreffende veiligheidstrukture oprig en uitbou.”

Só meen Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Hy het vandag by die organisasie se derde nasionale kongres in Warmbad gepraat oor veiligheid deur weerbaarheid en gesê dat mense in Suid-Afrika al hoe meer gedesensitiseer word teen misdaad. “Ons praat deesdae van ‘net nog ’n moord’ en dit is nie reg nie.”

Cameron het ’n oorsig gegee van misdaad in Suid-Afrika en klem gelê op die belangrikheid van akkuraatheid wanneer daar na misdaadbekamping gekyk word.

Sedert 2011 het moord in Suid-Afrika met 1 000 mense per jaar toegeneem en geweld tydens roofmisdade het ook toegeneem.

Sedert die begin van 2018 het 280 plaasaanvalle plaasgevind en is 74 plaasmoorde gepleeg.

Volgens Cameron word betogings ook ’n groot probleem in Suid-Afrika omdat al hoe meer mense daarby betrek word en dit toenemend gepaard gaan met geweld en vandalisme.

Sedert die begin van 2018 het daar reeds 152 dienslewering-verwante betogings plaasgevind.

Die hoeveelheid gewelddadige optogte in Suid-Afrika het verdriedubbel sedert 2011.

Ondanks dié uitdagings meen Cameron moet AfriForum se werk op grondvlak nie onderskat word nie.

Sedert die vorige kongres het AfriForum hul interne veiligheidstruktuur geweldig uitgebrei deur byvoorbeeld opleiding, die stigting van die AfriForum se slagofferondersteuningseenheid, die stigting van ’n nasionale radionetwerk, ontwikkeling van ’n lugvleuel en die stigting van die regs- en risiko-afdeling.

Sedert die begin van die jaar het AfriForum se veiligheidstrukture 112 prioriteit 1-arrestasies en 30 plaasaanval-arrestasies gemaak. Sowat mense 23 000 mense het AfriForum se Trackbox-toep afgelaai.

Daar is tans 115 AfriForum-buurtwagte en in die afgelope drie jaar het buurtwaglede van 1 800 mense na amper 7 000 gegroei.

“Ons stel die standaard vir gemeenskapsveiligheid en ons moet nie moeg word nie. Mense moet ons gemeenskapstrukture as taai sien. Ons veiligheidsuitdagings is nie maklik nie, maar ons kan herstel en ons kan herleef.”

Soortgelyke plasings