|

De Ruyter se bewerings olie op kragtariewe-vuur   

André de Ruyter se kennistydperk wat met meer as ’n maand verkort is, is vir AfriForum ’n klinkklaar bewys dat De Ruyter se toenemende openbare deursigtigheid oor korrupsie by Eskom en wie daarby betrokke is die rede vir dié besluit is. De Ruyter het reeds in Desember sy bedankingsbrief ingedien en sou eers die kragreus aan die einde van Maart verlaat, maar ná ’n ooreenkoms by ’n spesiale raadsitting is hy met onmiddellike effek die trekpas gegee.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, sê die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) moet hierdie bewerings van korrupsie van iemand met intieme kennis daarvan, met tariefverhogings in ag neem. President Cyril Ramaphosa het juis melding van korrupsie by Eskom in sy staatsrede en by talle ander geleenthede gemaak en gesê 43 arrestasies is al uitgevoer. Dit is afgesien van al die geloofwaardige onthullings wat al in die media gemaak is.

“Die uitwerking hiervan is die nypende beurtkrag waarmee die land nou te kampe het. Hoekom word hierdie korrupte bedrywighede nie in ag geneem as Nersa tariefverhogings van bykans 20% toestaan nie? Dis ’n vraag wat beantwoord moet word.”    

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê De Ruyter beskik oor intieme kennis van die kragvoorsiener en daarom moet sy bewerings oor ANC-hooggeplaastes se betrokkenheid by Eskom se korrupsie ernstig opgeneem word. “Dit is ook nie die eerste aantygings wat hy oor endemiese korrupsie gemaak het nie, en dit is nie net ’n sogenaamde staatskaping-probleem nie. Hierdie aantygings tesame met ander fluitjieblasers s’n moes al vroeër ondersoek geword het, maar dit blyk makliker te wees om diegene eerder net stil te maak.

“Eskom se direksie het die land en hul organisasie in die steek gelaat deur De Ruyter se diens voortydig te beëindig terwyl hulle bloot sy en ander rolspelers se bewerings ernstig kon opneem en sodoende Eskom kon probeer red het. Dít maak ’n bespotting van Ramaphosa se staatsrede-beloftes om geregtigheid by Eskom te laat geskied en korrupsie uit te roei,” sluit Brink af. 

Soortgelyke plasings