Water
|

Waterkrisis kan opgelos word as munisipale begrotings reg bestuur word

Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het gister in sy begrotingsrede genoem dat befondsing aan munisipaliteite en provinsies in die mediumtermyn drasties sal toeneem. Die provinsiale regering, wat die oorsigfunksie speel oor munisipaliteite, se begroting gaan oor die volgende drie jaar tot R2 700 miljard styg. Die finansiële inspuiting van munisipaliteite gaan oor dieselfde tydperk tot R521,7 miljard styg.

“Dit help nie die tesourie hou aan om geld in ’n donker gat te gooi nie. Die tesourie het die verpligting om gesonde finansiële bestuur af te dwing en moet tesame met die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake behoorlik by munisipaliteite ingryp. Ons sien verder dat munisipaliteite vir grootmaatdienste-projekte begroot, maar dat dit nooit op grondvlak uitgevoer word nie. Toegang tot nodige fondse is nie altyd die probleem nie, maar gesonde bestuurspraktyke wat nie geïmplementeer word nie veroorsaak dat munisipaliteite nie hul grondwetlike pligte nakom nie,” sê Lambert de Klerk,  bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

“AfriForum het al gesien dat munisipaliteite vir drie jaar toelaes van miljoene rande, soos die MIG (Municipal Infrastructure Grant), ontvang en dit net bloot nie vir infrastruktuur gebruik word soos daar in hul begrotings beplan word nie,” brei De Klerk uit.

As voorbeeld moet ’n mens gaan kyk na die blou-en-groendruppelverslag wat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) in 2022 vrygestel het. Die verslag wys ’n geskatte koste vir die groendruppel uit wat spesifiek na die rioolsisteem in Suid-Afrika kyk. Die “very rough order of measurement” (VROOM), ’n algoritme se totale koste om al die rioolaanlegte en sy sisteme te herstel, kom neer op R8,14 miljard.

Dit is duidelik dat as munisipaliteite die geld reg bestuur en as daar nie korrupsie betrokke is nie kan die rioolkrisis in die land opgelos word. Die bloudruppeloudit sal in die komende jaar moontlik bekendgestel word wat ook vir ons gaan aandui wat die geskatte koste vir drinkwatersisteme in Suid-Afrika gaan wees, wat volgens kenners in sekere provinsies in haglike toestande is.

Die volgende vraag moet gevra word: Wat gebeur by sommige munisipaliteite met die geld wat begroot is vir infrastruktuur en instandhouding?

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer by Plaaslikeregeringsake, meld munisipaliteite hul swak finansiële en projekte bestuur in hul beplanningsdokumentasie (geïntegreerde ontwikkelingsplan) aan en steeds befonds nasionale tesourie hierdie swak prestasie. “Die openbare deelname proses van munisipaliteite waar die plan beraam word om hierdie leemtes in dienslewering aan te pak, is tans aan die gang en gemeenskappe moet aan hierdie prosesse deelneem om te verseker dat hul regte beskerm word.”

Lambert de Klerk

Soortgelyke plasings