|

Delmas-tak neem deel aan GOP-proses

AfriForum se Delmas-tak het skriftelike kommentare ingedien tydens die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) proses. Tydens hierdie proses kry gemeenskappe die geleentheid om probleme te identifiseer waaraan die munisipaliteit aandag moet gee.

Die tak het onder meer insette gelewer oor die ouditeur generaal se finansiële verslae van hierdie munisipaliteit wat dui op uitstaande skuld aan Randwater wat lei tot waterdrukverlaging. Volgens die ouditeur generaal se verslag is 80% van die verbruikersbegroting nie spandeer tydens 2022 nie, volgens die tak moet die munisipaliteit dus genoegsame fondse hê om beter dienste te lewer en skuld aan diensverskaffers te vereffen.

Verskeie strate benodig herstelwerk en die munisipaliteit se vullisterrein is ook in ’n bedenklike toestand. Voorts het die tak ook verwys na die toestand van die rioolnetwerk en die feit dat riool in die Bronkhorstspruit inloop.

“Hierdie projek gee vir inwoners geleentheid om self betrokke te raak en te weet waar die probleme lê en wat gedoen moet word. Ons kan nie net kla as ons nie deel is van die projek nie,” sê Carel Botha, voorsitter van die AfriForum-tak in Delmas.

Inwoners word versoek om AfriForum se Delmas-tak te ondersteun, besoek: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings