|

Departement se weiering om Botswana met regshulp by te staan, kan dalk regsverydeling wees

 

Die Suid-Afrikaanse Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste se weiering of versuim om die regering van Botswana met wedersydse regshulp by te staan, kan moontlik op regsverydeling neerkom.

Só meen adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Nel het vandag aangekondig dat dié eenheid ’n mandamus-aansoek teen onder andere Ronald Lamola, die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, gebring het om dié departement te dwing om die wedersydse regshulp te fasiliteer in die geldwassery- en bedrogsaak waarby die sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe, skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe, oudminister, geïmpliseer word.

Volgens Nel het die eenheid geen ander keuse as om hom tot die hof te wend om die departement te dwing om sy plig na te kom nie.

AfriForum het in Junie vanjaar aangekondig dat Nel en adv. Phyllis Vorster, ook van die privaatvervolgingseenheid, amptelik deur die Botswana-regering aangestel is om hulle in hierdie saak te verteenwoordig. AfriForum se mandaat in hierdie saak is om die Botswana-regering se versoek om wedersydse regshulp te fasiliteer in die saak van die Bank van Botswana wat handel oor bedrog en geldwassery. Dit volg nadat adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se Direkteur van Openbare Vervolging, reeds op 25 September 2019 ’n versoek vir wedersydse regshulp aan die Suid-Afrikaanse regering gerig het, maar hierdie versoek het na bewering gerieflikheidshalwe verdwyn. ’n Nuwe versoek is voorberei maar die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering (DIRCO) weier egter om hierdie aansoek te aanvaar aangesien hulle “in lyn met COVID-19-regulasies” geen dokumente aanvaar nie.

“Die Departement van Justisie se versuim om te reageer op die versoek vir wedersydse regshulp van ’n buurland met betrekking tot beweerde korrupsie is heeltemal teenstrydig met die uitlatings van Lamola en die regering in die media dat hulle ernstig daaroor is om diegene wat hulself skuldig maak aan korrupsie, aan te vat. Dit ontlok ’n nadelige afleiding dat Ramaphosa vir Lamola aangestel het as voorsitter van ’n interministeriële komitee om korrupsie te ondersoek en dui verder daarop dat die regering se sogenaamde geveg teen korrupsie bloot lippetaal is,” sê Nel.

Nel het kennis geneem van die verslag van die Britse maatskappye Omnia Strategy en Alaco Limited wat in ’n onafhanklike forensiese ondersoek bevind het dat die beweringe van geldwassery teen Motsepe-Radebe en oudpres. Ian Khama ’n versinsel is.

Volgens Nel kan dié verslag uiteindelik dalk nuttig wees om die beskuldigdes se onskuld te bewys. AfriForum se mandaat is egter nie om hom oor die meriete van die saak uit te spreek of dit te ondersoek nie, maar wel om die Departement van Justisie te dwing om met die regering van Botswana saam te werk. Volgens Nel moet die saak behoorlik deur die polisie ondersoek word alvorens enige afleidings gemaak word.

Nel het ook terugvoer gegee oor twee ander internasionale sake waarin die Direkteur Generaal van Justisie se daadwerklike optrede versoek is, maar geen terugvoer nog ontvang is nie. Dié sake hou verband met die uitlewering van die moordenaars van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda en die uitlewering van Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe.

Nel het gesê dit lyk of die Departement van Justisie ’n “kop-in-die-sand-houding” het wat dié sake betref en nie bereid is om met die slagoffers van misdaad te praat nie.

In die geval van die Karegeya-saak het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in September 2019 lasbriewe bekom vir die arrestasie van twee van die vier vermeende moordenaars van Karegeya. Die NVG het toe aangedui dat hulle in proses is om aansoek te doen vir die uitlewering van Ismael Gafaranga en Alex Sugira.

Dít volg nadat Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid die Karegeya-familie bygestaan het in die informele geregtelike ondersoek na die dood van Karegeya.

Die NVG het AfriForum in April 2019 ingelig dat hulle besluit het om aansoek te doen om Mugabe aan Suid-Afrika uit te lewer. Mugabe het Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, in 2017 met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Die NVG het Nel op 2 Junie 2020 in kennis gestel dat die versoek vir die uitlewering vir Mugabe na die Departement van Justisie verwys is vir bevestiging en versending na die Zimbabwiese regering in Julie 2019. “Tot op hede is daar nog geen terugvoer nie. ’n Mens kan eenvoudig nie anders as om die afleiding te maak dat daar geen politieke wil bestaan om die saak deur te voer nie,” meen Nel.

Soortgelyke plasings