|

Skokkende misdaadstatistieke bewys dis nou tyd vir afwenteling van polisiemagte

Die skokkende misdaadstatistieke wat vandag vrygestel is, is ’n duidelike bewys dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), onder leiding van Bheki Cele, minister van Polisie, ergerlik misluk het.

Die SAPD is veels te lank deur politieke inmenging, korrupsie, ’n gebrek aan opleiding en ’n gebrek aan aanspreeklikheid lamgelê. Dit is duidelik dat hierdie situasie nie op nasionale vlak reggestel kan word nie, aangesien dit soortgelyk sal wees daaraan om die wolf te vra om die skape op te pas.

Intussen het AfriForum vandag ’n verslag oor die desentralisering van polisiedienste vrygestel. Die volgende bevindinge word in die verslag uiteengesit: “Dit is duidelik uit die ontledings dat daar aansienlike variasie in misdaadsyfers oor provinsies heen is. Hierdie variasie behels moordsyfers en die aard van die misdaad, soos taxi-verwante geweld, sluipmoorde, plaasmoorde en onwettige mynbou-verwante moorde. Verdere ondersoek en begrip van hierdie teenstrydighede is van kritieke belang vir wetstoepassingsagentskappe, beleidmakers en belanghebbendes.”

Terwyl politici soos Cele aanhou om leë beloftes te maak, word gewone Suid-Afrikaners teen ’n kommerwekkende tempo vermoor en verkrag.

“Minister Cele is natuurlik nie in staat om sy pligte uit te voer nie. Hy prioritiseer partypolitiek en die beskerming van politieke pelle pleks daarvan om te verseker dat die SAPD doeltreffend funksioneer. Dit het onlangs aan die lig gekom dat vyfduisend polisievuurwapens in die afgelope vyf jaar onder Cele se aaklige leierskap verlore gegaan het. Daardie vuurwapens bemagtig misdadigers direk,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Beheer oor die SAPD behoort nie in die hande van korrupte ANC sentrale magte te wees nie, maar eerder in die hande van gemeenskappe self. Dit is nou tyd om die SAPD se magte af te wentel sodat hierdie kriminele gemors opgeruim kan word,” sluit Broodryk af.

AfriForum doen ook ’n beroep op lede van die publiek om betrokke te raak by hul plaaslike burgerlike veiligheidstrukture om die veiligheid van hul gemeenskappe te help verseker.

AfriForum het 168 buurtwagte landwyd. Raak betrokke by www.afriforumbuurtwag.co.za.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings