|

Desentralisering van polisiemagte sal help om misdaad te bekamp

Misdaad is orals in Suid-Afrika ’n probleem en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is oneffektief om oplossings te bied. Een van die grootste uitdagings vir die SAPD is om van nasionale vlak te reageer op insidente wat op provinsiale en plaaslike vlak plaasvind. Desentralisering of afwenteling van polisiemagte is vandag tydens ’n sitkamergesprek by AfriForum as ’n moontlike oplossing bespreek.

Volgens Heindrich Wyngaardt, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, is daar voorsiening binne die Grondwet gemaak vir gemeenskappe om meer eienaarskap te neem oor wat op plaaslike vlak gebeur. “Ons moet harder praat oor die regte wat die Grondwet aan ons bied al maak dit die ANC-regering ongemaklik. Wat dikwels gebeur is dat gemeenskappe deur kaders doodgepraat word. ’n Laer misdaadsyfer is byvoorbeeld goed vir sakeondernemings en toerisme.”

Heindrich Wyngaardt, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum

Elke gemeenskap het sy eie uitdagings wat misdaad en die polisiëring daarvan aanbetref. Met die onluste en plundering wat in 2021 in KwaZulu-Natal gesien is, was die reaksie van die nasionale SAPD traag en is die situasie dae later eers onder beheer gebring. Die boodskap van plaaslike polisie was “ons weet wat om te doen, laat ons net toe om dit te doen”.

Johan Nortjé, navorser by AfriForum, sê die SAPD is een van die grootste staatsorganisasies en is dikwels te lomp om oplossings op plaaslike vlak te bied. “Die SAPD is groot en oor die algemeen is innovering by groot organisasies stadig. Dieselfde kan by die SAPD gesien word. Plaaslike polisie is meer in voeling met hul gemeenskappe en kan met beter oplossings vir hul eie probleme vorendag kom as hulle net toegelaat word om dit te doen.

“Daar is ’n voorlopige polisiebeleid wat tans oop is vir kommentaar wat tien probleme geïdentifiseer het, maar die oplossings vir hierdie probleme is te breed en vaag om doeltreffend te wees. Dan is daar ook die probleem dat elke provinsie of selfs stad of dorp se misdaadprofiel anders lyk en dus sy eie oplossings benodig. Op nasionale vlak word daar nie hiervoor voorsiening gemaak nie. Desentralisering van polisiemagte sal nie alle probleme oplos nie, maar dis ’n stap in die regte rigting.”

Johan Nortjé, navorser by AfriForum

Nortjé en Wyngaardt is dit eens dat misdaadbekamping op plaaslike vlak moet begin. Volgens hulle moet gemeenskappe en die polisie op plaaslike vlak nouer saamwerk om oplossings vir hul eie probleme te vind.

“AfriForum het meer as 160 buurt- en plaaswagte landwyd. Raak betrokke by een van hierdie strukture of ander gemeenskapsinisiatiewe wat help om misdaad te bekamp. Misdaad kan net bekamp word as die wil van die mense daar is,” sê Nortjé.

Soortgelyke plasings