|

Die verband tussen gemeenskappe as antwoord op die verbrokkeling van ’n veelvolkige Suid-Afrika

Dames en here, dit is werklik ’n groot voorreg om die 47ste HF Verwoerd-gedenklesing te lewer. Wanneer mens kyk na die persone wat al voorheen die lesing gelewer het, kan ’n mens maar net nederig wees. Maar dit is veral ’n voorreg om deel te wees van ’n tradisie wat nou al oor amper 5 dekades strek. Want tradisie is belangrik. Ek is geen filosoof of akademikus nie, ek is eerder ’n gewone reisiger wat graag met u my gedagtes deel soos wat dit oortyd gevorm is deur my omswerwinge in die wye ruimtes tussen die verskillende volkere van suidelike Afrika.

’n Oomblik van besinning

Deur die geskiedenis heen het gebeurtenisse plaasgevind wat gemeenskappe en soms ganse beskawings tot besinning geruk het. Gewoonlik vind besinning egter eers ná die gebeurtenis plaas, eenvoudig omdat dit die menslike natuur is om só in omstandighede vasgevang te word dat besinning eers agterna plaasvind – gewoonlik met ernstige negatiewe gevolge. Soms is daar stemme wat in die chaos reeds oproepe om herbesinning maak, maar die dreunsang van die massa doof gewoonlik hierdie stemme uit.

’n Voorbeeld van so ’n kanteloomblik in die onlangse geskiedenis is die Tweede Wêreldoorlog. Met die insig van terugkyk vra mens sigself af: Hoe het dit gebeur dat die Weste – en Christene tot op die punt gekom het van vernietiging op ’n industriële skaal wat uiteindelik ’n wêreldimpak gehad het?

Die afgelope twee en ’n half jaar

Ons geslag het die afgelope twee en ’n half jaar weer so ’n kanteloomblik beleef – inteendeel, ons is steeds besig om daardeur te leef, die oppervlakkige intensiteit daarvan is slegs tans laer. Met die aankondiging van die Covid-19-pandemie is daar reeds gesê dat die gebeurtenis ’n kanteloomblik soos die Tweede Wêreldoorlog is. Ek moet erken dat ek die impak van hierdie kanteloomblik aanvanklik totaal verkeerd voorsien het. Ek was van mening dat dit op praktiese vlak, soos byvoorbeeld op die ekonomiese waardeketting geweldige impak sou hê, wat wel gebeur het.

Die dieperliggende geestelike en sielkundige gevolge, dít wat gemeenskappe en mense aanmekaar weef, het ek egter nie voorsien nie. Die eenvoudige waarheid is dat sogenaamde Westerse liberale demokrasieë (en natuurlik ander regerings ook) eenvoudig ongekende menseregte vergrype gepleeg het – sommige demokrasieë volhard steeds met hierdie optrede. Selfs sommige werkgewers, veral internasionale maatskappye, het hulself aan die liggame van hul werknemers vergryp – die verskil tussen ’n slaaf en ’n werknemer is dat jy oor jou eie liggaam mag en kan besluit. Mediese etiek en die geloofwaardigheid van openbare gesondheid is geweldige skade berokken – na my mening gaan die gevolge daarvan nog oor eeue heen weergalm.

Die groot vraag

Onder sulke omstandighede word mens uitgedaag om te vra: Wat is die essensie van die lewe? Wat is belangrik? Wat is die maatstawwe wat gebruik word? Wat is die kern van my identiteit? Wat is die kern van my bestaan as ’n Christen hier op aarde? En as ’n ouer: Wat is dit wat ek aan my kinders moet oordra dat hulle die onderskeidingsvermoë en wysheid sal hê om in die toekoms die regte keuses te maak wanneer hulle voor die toets te staan kom?

My antwoord

Vir my was die antwoord dat dit hier op aarde fundamenteel gaan daaroor om twee keuses te maak. Eerstens: Elke mens en daarom elke gemeenskap, moet kies tussen die waarheid en die leuen; tweedens moet die keuse gemaak word tussen liefde en vrees.

Daar is ’n bekende aanhaling van die Russiese skrywer Aleksandr Solzjenitsin oor die waarheid en die leuen. Hy het geskryf: “Die eenvoudige optrede van ’n gewone dapper man is om nie aan leuens deel te neem nie, om nie vals optrede te steun nie. Sy reël is: Laat dit in die wêreld kom, laat dit selfs hoogty vier – maar nie deur my nie.”

1 Johannes 4 vers 18 praat oor liefde en vrees: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees …”

Waarom besin?

Om te besin is goed vir ’n mens, dit laat mens groei, dit gee vir mens sekerheid oor wie mens is – en ook waarheen mens wil gaan. Maar daardie besinning dra nog meer waarde as dit tot voordeel van geliefdes en gemeenskap aangewend kan word. Daarom is dit nodig vir ons om te besin en dan te bepaal hoe ons gewaarwordings prakties toegepas kan word tot voordeel van die opkomende geslagte.

Waarom die waarheid belangrik is?

Dit is vir ’n ingenieur baie maklik om te verstaan waarom die waarheid, of anders gestel, die werklikheid, belangrik is. ’n Oplossing vir ’n praktiese probleem sal eenvoudig nie werk as die werklikheid nie in ag geneem word nie. Staal en beton het ’n sekere sterkte, werk wat swak gedoen word, het gevolge – ’n brug kan nie die ontwerpvrag dra as die ontwerp gebaseer is op iets anders as hierdie werklikhede nie. Dit gaan nie oor wat jy dink dit behoort te wees om in te pas by jou wêreldbeeld of ideologie nie – dit gaan eenvoudig oor wat dit is.

Onsekerheid en werklikheid

Mens moet egter nie werklikheid en sekerheid met mekaar verwar nie. Baie mense verwag dat die werklikheid, of die waarheid, baie seker moet wees. Die werklikheid is egter dat daar altyd onsekerheid bestaan. Met hierdie onsekerheid moet mens gemaklik wees – en mens se optrede daarby aanpas. Daarom maak ingenieurs van veiligheidsfaktore gebruik. Dit beteken prakties dat jy uitwerk hoe dik ’n stuk staal moet wees om die las te dra en dan maal jy daardie dikte met twee of drie vir jou uiteindelike ontwerp. Want mens is bewus daarvan dat jy nie noodwendig alles in ag neem wat moontlik kan gebeur nie. Wanneer massa ’n beperking is, soos byvoorbeeld in vliegtuie, word laer veiligheidsfaktore gebruik – maar die sekerheid en daardeur die veiligheid, word dan eksperimenteel bevestig.

Ongemak met onsekerheid

Omdat die Weste grotendeels ontkersten het, is veral hedendaagse Westerlinge baie ongemaklik met onsekerheid. Vir ’n gelowige mens is onsekerheid makliker om te verdra – want waar mens onseker is, vertrou mens. Die reuse-spronge in tegnologiese vordering en die vermoë om al meer te meet, het by mense die wanindruk geskep dat onsekerheid uitgeskakel kan word en behoort te word. Enige mens wat al egter by eksperimente en meting betrokke was, is terdeë bewus van die onakkuraathede van meting en hoe erg meting beïnvloed word deur subjektiwiteit. Die praktiese implikasie van hierdie vrees vir onsekerheid is dat geïsoleerde individue sekerheid by die staat soek en van die staat verwag om sekerheid te gee – gewoonlik ten koste van vryheid.

Sekerheid deur ideologie

’n Tweede plek waar mense sekerheid gaan soek is by ideologie. Daar is iets baie menslik, en dalk ironies in die feit dat, veral ongelowiges, God in ideologie gaan soek en dat ideologie dan godsdiens vervang. Die praktiese gevolge hiervan is dat mense wat dan nie die ideologie aanhang nie, of ’n alternatiewe ideologie aanhang, óf nie aan die uitvoering van die ideologie deelneem nie, as ketters gesien word, wat gekanselleer moet word. Die stilmaak van stemme, veral van kundiges, wat nie met die heersende ideologie van die afgelope twee en ’n half jaar saamgestem het nie, is ’n praktiese voorbeeld hiervan. Verbanning van Facebook, Twitter en YouTube is die brandstapels vir die ketters van ons tyd.

Verlede – hede – toekoms

Die hede is ’n produk van die verlede wat dit voorafgegaan het – die toekoms sal weer ’n produk van die huidige wees. Om te verstaan hoe mens gekom het waar mens is – en veral om te verstaan waarom mens in huidige omstandighede is, móét mens dus na die verlede gaan kyk. Die werklikheid, of dan die waarheid, van die verlede is dus ook baie belangrik.

In die 1870’s versuur die verhouding tussen die Afrikaners van die ZAR en hul eertydse bondgenoot koning Sekhukhune I van die Bapedi, tot so ’n mate dat ’n oorlog uitbreek. Koning Sekhukhune I gaan verskans homself op Mosegakop, ’n hoë kop in die andersins plat Tjatevallei wat die hartland van die Bapedi is – koning Sekwati I, vriend van die Voortrekkers en Hendrik Potgieter, is ook op dié kop begrawe. Die ZAR se halfhartige poging om die vesting in te neem is onsuksesvol en daar word besluit om die aanval te staak omdat dit tot te veel lewensverlies sou lei. Die Bapedi is ’n kort daarna deur Britse magte verslaan terwyl die ZAR deur Brittanje geannekseer was.

Op 27 Februarie 1881 behaal die ZAR ’n groot oorwinning oor die Britse magte op Majubaberg. Nou wat het Mosegakop en Majubaberg met mekaar te doen? Een van die redes vir die onverskillige selfversekerdheid van die Britse magte en hul bevelvoerder, Generaal Colley, was die ZAR se onsuksesvolle aanval op Mosegakop. Die Britte se aanname was eenvoudig: As die Boere nie die Bapedi van Mosegakop kan afhaal nie, hoe gaan hulle die Britse mag onder bevel van ’n beroemde generaal van Majubaberg afhaal? Dit is ’n pragtige voorbeeld hoe gebeure uit die verlede denke, optrede en uiteindelik gevolge beïnvloed.

Geskiedenis is ’n volk se geheue

Die geskiedenis van ’n volk is daardie volk se geheue. Die gedeelde geskiedenis van verskillende volkere in dieselfde streek is die gedeelde geheue van daardie volkere. Natuurlik gaan die klem en selfs die weergawes van die geskiedenis verskil en wie die helde en die skurke was – maar tog word die gemeenskappe gebind deur die gedeelde ervaring van die verlede.

Verbeel u dat u een oggend opstaan en u het geen geheue nie – dit sal onmoontlik wees om daardie dag te funksioneer. Dieselfde geld vir ’n volk – sonder kennis van die geskiedenis is ’n volk soos ’n mens wat aan geheueverlies ly. Daardie volk gaan nie weet wie hy is nie, hy gaan nie weet waar hy vandaan kom nie en gaan dan ook nie weet waarheen hy op pad is nie. Daar word nie verniet gesê dat dié wat die verlede beheer ook die toekoms beheer nie.

Die toekoms gaan bepaal word deur wat die huidige geslag besluit en doen – of nie doen nie. Sonder voete wat stewig op ’n grondige begrip van die verlede geplant staan, is slegs ’n onstabiele en onseker toekoms moontlik.

Die gevaar van ’n toekoms sonder ’n verlede

Die gevaar van ’n toekoms sonder ’n verlede is dat ’n volk die risiko loop om foute te herhaal. Die enigste manier om die risiko van die herhaling van foute so laag as moontlik te hou, is om die verlede deeglik te ondersoek en krities te beoordeel. Mens moet verstaan: Wat het gewerk en wat het nie gewerk nie? Waarom het dit gewerk of nie gewerk nie? Wat moet ons in die toekoms doen om beter uitkomste te verseker?

Een vraagstuk waaroor ek altyd wonder is die Rebellie van 1914. Hoe kon die republikeinse Afrikaners van destyds (my oupagrootjie se geslag) dink dat ’n rebellie suksesvol kon wees terwyl ’n groot deel van die volk net 12 jaar vantevore nie bereid was om teen ’n vyand te veg nie en sommige selfs saam met die vyand geveg het? Die antwoord lê moontlik daarin dat die “hensopper” en “joiner” vraagstuk na die vreeslike ellende van die Tweede Vryheidsoorlog nie vierkantig in die oë gekyk is nie, maar ter wille van oorlewing en genesing in die doofpot gestop is. Mens oordeel hoegenaamd nie – mens verstaan dat menslikheid hier ter sprake is – maar mens moet tog, nou meer as 100 jaar later daaroor besin. Wanneer die waarheid nie gesoek word nie, al is dit uitdagend en selfs seer – is die herhaling van foute mens se voorland.

Die menslike toestand

’n Ander waarheid, naas die werklikheid van die hede en die verlede, wat mens altyd in ag moet neem, is die werklikheid van die menslike toestand. Ons leef hier op aarde, dit is nie die hemel hier nie. Ons en ons voorouers, is mense, nie engele nie. Die mens is swak en sondig, elke mens het godgegewe gawes maar ook tekortkominge. Ons moet dus ook náás nadink oor wát ons moet doen en wát ons moet regkry ook veral nadink oor hóé ons moet doen – want ons moet die werklikheid van die menslike toestand in ag neem.

Die geskiedenis leer ons dat ego, die oersonde wat deel van die menslike toestand is, moeilik is om te bestuur. Regdeur die geskiedenis is daar voorbeelde van die vernietigende gevolge van mag wat gesentraliseer is in een persoon of ’n klein groepie mense. Desentralisering van mag, die verdeling van magsentrums tussen verskillende polisse, soewereiniteit in eie kring soos beskryf deur Kuyper, dít alles is maniere om die werklikheid van die menslike toestand in ag te neem.

Oplossings van bo af

Die afgelope paar eeue is daar hard gepoog om van bo af, van ’n sentrale punt af, werkbare oplossings te kry vir die groot uitdagings wat suidelike Afrika as veelvolkige subkontinent in die gesig staar. Soms was daar ’n paar kleiner sentrale punte, soos in die tweede helfte van die 1800’s toe die Boererepublieke en kolonies bestaan het. Sedert 1910, met die ontstaan van Suid-Afrika as ’n politieke eenheid, is ’n groot deel van suidelike Afrika onderworpe aan gesentraliseerde bestuur en beplanning.

Gesentraliseerde bestuur en beplanning, wanneer dit goed gedoen word, kan baie effektief wees – minstens vir ’n rukkie. Maar omdat dit ’n slegte passing op die komplekse werklikheid en die werklikheid van die menslike toestand is – loop dit uiteindelik skeef. ’n Sentrale regering, in ’n landstreek so groot soos Suid-Afrika, is baie vêr van die grond af. Dit is onmoontlik vir die sentrale regering om te weet wat werklik op die grond aangaan en veral hoe dit met die gemeenskappe, met die mense, daar gaan en hoe hulle voel. ’n Sentrale regering kan nie anders as om te standaardiseer nie. Standaardisering maak bestuur en beheer makliker, maar dit is ’n slegte passing op die komplekse, diverse, onvoorspelbare werklikheid. Standaardisering lei ongelukkig ook tot verontmensliking – die gemeenskap, die gesin, die individu verdwyn in die “standaard” in die groot plan.

Groot planne en klein mense

Groot planne kan baie belowend lyk – maar as dit nie deurdink word tot op die vlak van die gemeenskap, die gesin en uiteindelik die mens nie – word dit iets onmenslik en verwerplik. ’n Groot plan van ’n sentrale staat het gewoonlik slegte gevolge vir klein mense.

In Suid-Afrika vlam die debat oor onteiening sonder vergoeding elke nou en dan op. Ons kan maar verwag dat dit in aanloop tot die volgende verkiesing weer gaan opstaan – ook omdat die heersende politieke elite se geld, planne en leë beloftes begin opraak.

Dit is maklik om oor onteiening sonder vergoeding te praat as die gesprek gaan daaroor dat “ons” “julle” grond gaan vat sonder om daarvoor te betaal want “julle” het dit op ’n onregmatige manier van “ons” bekom. Wanneer mens egter begin praat oor gesinne, dan is antwoorde moeiliker. Ek het eenmaal in ’n debat vir ’n akademikus gevra dat sy vir my moet verduidelik wat sy voorsien moet gebeur en gaan gebeur as amptenare by Nico, sy vrou, Ria, en hul drie kinders Jaco, Marie en Johan op die plaas aankom en vir hulle sê dat hulle plaas nou gevat word sonder dat hulle daarvoor betaal gaan word. Hoe moet hulle dan nou verder lewe as dít wat hulle benut het om te leef en te oorleef van hulle ontneem word?

Ons groot plan se tekortkominge

Dit is ons plig om kritiek te lewer oor ons eie verlede. As ons dit nie doen nie, gaan ander dit doen – en is dit uit ons hande. Ons doel is nie om van ons voorouers sondaars te maak of oor hulle skaam te wees nie. Ons eenvoudige doel is om te leer, aan te pas en dan vooruit te kyk en te werk om ons visie te verwesenlik.

Ek het die voorreg gehad om Ga-Rantho, die nedersetting van die Rantho-stam naby die dorp Roossenekal in die Limpopo provinsie, te besoek. Die Rantho-stam is deel van die Bapedi volk. Die Rantho- stam was reeds gevestig op die plaas wat vandag as Steelpoortpark bekend staan toe Koning Mzilikazi Khumalo deur die gebied beweeg en geplunder het. Die Rantho-stam het gevlug, om te bepaal presies wanneer dit was, is moeilik, maar dit moes ongeveer tussen 1820 en 1840 plaasgevind het. ’n Paar dekades later het die stam na hul grond teruggekeer en hervestig. ’n Lid van die koninklike familie het vir my die oorblyfsels van die klipmure van die koninklike woning en die grafte van die koninklike familie gaan wys. Daar staan ’n groot ou maroelaboom by die murasie as stille getuie van wat op die werf afgespeel het. Die wêreld lê besaai met gebreekte maalklippe – ek het gedink dat die plek vir ’n argeoloog na aan die hemel sal moet wees.

In die 1900’s êrens is die stam egter verskuif van hierdie grond af, na ’n plaas daar naby, vandag bekend as Aapjesboom. Die latere geslagte van die koninklike familie se stoflike oorskot rus daar.

As mens die broer van die regmatige opperhoof, of Kgoshi, daar op die klipmuur onder die maroelaboom sien sit, dan kan mens nie anders as om te besef nie: Gedwonge ontneming van erfgrond en gedwonge verskuiwing van mense is eenvoudig verkeerd – dit maak nie saak hoe goed die groot plan is of was nie, dit maak nie saak dat die bedoeling goed was nie. Wat hier met ’n gemeenskap, met mense gebeur het, moes nie gebeur het nie. Dan moet ons vra: wat moes in plek gewees het, hoe moes organisatoriese strukture en rapporteringskanale gelyk het wat dit sou voorkom?

Hiermee fel mens geen oordeel oor ons voorouers se antwoord op die komplekse erfenis wat hulle ontvang het nie. Ek sê nie ons sou beter kon doen nie. Maar wat ek wel sê, is dat ons hieroor moet besin en dan moet besluit hoe ons onsself organiseer, struktureer en optree om aanpasbaar genoeg te wees om soortgelyke omstandighede anders te hanteer. Hoe verseker ons dat die mag in ons gemeenskap genoegsaam oor verskeie instellings en polisse versprei is om die gevare van sentralisering uit te skakel?

Steelpoortpark word vandag deur ’n gemeenskapseiendomsvereniging bestuur, die meeste begunstigdes trek nie voordeel uit die “regstelling” nie. Die regmatige opperhoof word nie tans deur die staat erken nie, want ’n kommissie wat aangestel is om onregmatige opvolging tydens die vorige bedeling reg te stel, het die verkeerde status quo gehandhaaf. Hier is vir ons ’n geleentheid.

Aanpasbaarheid versus effektiwiteit

Wanneer met mense en gemeenskappe gewerk word, is aanpasbaarheid belangriker as effektiwiteit. Genl. Stanley McChrystel skryf in sy boek Team of Teams hoe die weermag van die VSA in Afghanistan totaal moes hervorm en effektiwiteit moes inboet ter wille van aanpasbaarheid om werklike sukses in ’n komplekse en onvoorspelbare werklikheid te verseker.

Wanneer ons dus praat van gemeenskapsbou, of beplanning vir ’n gemeenskap, moet ons dus kan sê: Dié manier is die effektiefste, maar dit werk nie vir die mense nie – hoe pas ons dit aan dat wat ons doen werklik tot voordeel van die gemeenskap sal wees en dit hul geluk sal verseker terwyl die uitkomste steeds bereik word?

Ons moet seker maak dat ons optrede die “hóé” getrou is en bly aan wie ons is en graag wil wees, getrou aan ons Christelike waardes. Die ANC is destyds met goeie bedoelings begin – maar hulle is totaal deur hul “hóé”, hul manier van doen vervorm tot ’n monster. Die doel heilig nie die middel nie – ’n mens, ’n volk, is nie wat bereik word nie – mens is wat (en hoe) mens doen.

Hier is ’n geleentheid

Ons geslag staar ons eie werklikhede in die gesig. Soos ons voorouers is daar ook groot hindernisse in die pad na ons droom om vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika te bestaan. Maar saam met die hindernisse en die uitdagings bestaan daar ook geleenthede. Ons moet die werklikheid vierkantig in die oë kyk, ons moet skep uit die diep put van ons waardes en ervaring, van ons kultuur met wortels wat oor millennia strek. Daarna moet ons skeppend en vernuwend te werk gaan, met dapperheid en vasberadenheid, met nederigheid – en veral in geloof.

Die werklikheid van die falende staat

Die een werklikheid is dat die staat, die orde waarin ons ons bevind, besig is om te faal. Dit veroorsaak vir ons groot uitdagings wat die beskikbaarheid van elektrisiteit, water en betroubare infrastruktuur betref. Maar dit skep ook vir ons die geleentheid om, binne ons vermoë, stap vir stap, al meer selfstandig en selfvoorsienend te word. Mens kan nie vry en afhanklik wees nie. As mens selfbeskikking wil hê dan moet mens die vermoë ontwikkel om prakties self oor mens se eie lot te beskik.

Hierdie uitdagings word deur al die verskillende kultuurgemeenskappe wat hul tans in die staat Suid-Afrika bevind beleef – hier is dus belang wat gedeel word en waar belange gedeel word kan saamgewerk word.

Ander gemeenskappe soek oplossing

Ander volkere se geduld met die regerende elite is ook op. Hulle is aktief besig om te soek na ander oplossings en hulp uit ander oorde. In hierdie opsig is die ANC hul eie grootste vyand. Die sukses van Afrikaners en hul instellings word deur ander volke raakgesien. Daarom word AfriForum en ander Afrikaner-instellings deur ander kultuurgemeenskappe genader vir hulp, maar ook vir raad om hul eie selfstandigheid te verbeter.

Woorde in eie taal

ʼn Lid van die Ndzundza koninklike familie het my vertel van hul leuse “Kuvuswa Ezivusako”. Hy het aan my verduidelik dat dit beteken: Hulp kom na die wat hulleself help. Die volkekundige dr. Chris van Vuuren het hy vir my verduidelik dat dit letterlik ʼn beskrywing is van ʼn bees wat opstaan. Hoe staan ʼn bees op? Eers met die agterpote, en dan trek hy die voorlyf met die hulp van die agterbene op.

As mens die woorde “help jouself” in jou eie taal het, dan beteken dit dat selfstandigheid êrens in jou kultuur leef of geleef het, en dat dit herontdek kan word. Natuurlik was die tradisionele gemeenskappe van suidelike Afrika selfversorgend voordat daar ʼn voogstaat was wat kon versorg. Die Seleka Barolong van die Oos-Vrystaat het in goeie jare graan aan die boere van die Oranje Vrystaat verkoop.

Kulturele identiteit is vir ons belangrik

Kulturele identiteit, gebruike, erfenis en taal is vir die ander volkere van Suid-Afrika belangrik, dit is ook vir ons belangrik. Daar kan dus saam opgetree word om ruimte te skep vir die bewaring en versterking van kulturele identiteit. Afrikaners en ander volkere kan juis met mekaar saamwerk en in vreedsame naasbestaan leef omdat ons die werklikheid van kultuur erken en graag verhoudings wil bou wat op wedersydse erkenning en respek gegrondves is.

Bestaansdrang

Afrikaners en die andere volkere van suidelike Afrika deel ’n drang om voort te bestaan. Dalk is dit meer eerlik om te sê daar word gevrees oor voortbestaan – vir Afrikaners is dit tans moontlik ʼn besorgdheid oor langertermyn voortbestaan, en vir ander kultuurgemeenskappe tans ʼn meer akute behoefte om aan onmiddellike bestaansbehoeftes te voldoen – maar ons wil almal ʼn mooi toekoms vir ons kinders hê.

Liefde en vrees

Hier moet ons waaksaam wees: ’n mens, ’n volk wat deur bestaansvrees gedryf word kan, as gevolg van vrees, verkeerde en dalk selfs irrasionele besluite neem. Dit kan klink soos ’n cliché – maar die enigste manier om vrees te oorkom, is deur liefde. Ons moet dus seker maak dat ons optrede spruit uit liefde – ons tree in belang van onsself op, ons word gedryf deur ’n diep liefde vir die eie. Maar – ons tree ook in ware liefde op teenoor ander volkere, omdat ons hulle alles gun wat ons onsself gun en dat ons nie onsself wil bevoordeel ten koste van ander nie. Dit is immers wat die liefdesgebod vereis: jou naaste soos jouself.

Dít is die onderskeid tussen die gemeenskapsmens en die reaksionêre aan die rante van die spektrum – ons word gedryf deur liefde vir iets, nie deur haat vir iets of iemand nie; en soos reeds gesê – ook nie deur vrees nie.

Impak van bestaansvrees

Dit is tyd dat ons diep nadink en navorsing doen oor die impak van bestaansvrees op Afrikaners en die invloed wat dit op ons besluite en optrede gehad het, en steeds het.

Hoeveel van wat in die 1900’s gebeur het kan, minstens gedeeltelik, toegeskryf word aan die bestaansvrees wat ontstaan het as gevolg van die skrikwekkende vernietiging, lewensverlies en verlies aan vertroue in medemens tydens die Tweede Vryheidsoorlog? Ek kom uit ʼn familie waar ʼn oupa en pa tydens die oorlog oorlede is en waar een vierjarige seuntjie en sy moeder oorleef het – die impak daarvan is vandag nog tasbaar.

Elk elke keer as daar berig word oor samewerking tussen Afrikaners en ander volke is daar ʼn paar mense wat opmerk: “Onthou van Retief en Dingaan”. Dit is baie duidelik dat dié uiters traumatiese gebeure van 1838 diep in die geheue van Afrikaners ingebrand is, dat ons as’t ware meer as 180 jaar later steeds deur die gebeure getraumatiseerd is, en dat dit steeds ons denke en daarom moontlik ons dade beïnvloed.

Historiese kennis

Dit is tyd dat ons kennis neem van die goeie verhoudings wat bestaan het tussen koning Mpande en die Afrikaners, en ook tussen koning Dinuzulu en die Afrikaners. Zoeloes wat die geskiedenis ken, soos lede van die koninklike familie, is terdeë van hierdie historiese waarhede bewus. Daar is talle ander voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking, wat te veel is om te noem: Opperhoof Moroka II van die Seleka Barolong by Thaba ’Nchu is een van die bekendstes. Ons moet ook vir mekaar vra: waarom ken ons hierdie geskiedenis nie? Wat moet gedoen word dat dit wel bekend sal wees?

Verskoning vra

Ek was eenmaal tydens ’n gesprek met prins Mangosuthu Buthelezi, wat ook die tradisionele eerste minister van die Zoeloes is, baie verras toe hy vir my sê dat hy tydens die verhore van die Waarheid-en-versoeningskommissie verskoning gevra het vir die moord op Retief.

Dit het my diep laat nadink – ons verwag immers nie van ander volke om verskoning te vra oor die dade van hul voorouers, waaroor hulle geen beheer of invloed gehad het nie, waarom is dit dan gedoen? Wat verwag die ander volkere dan van ons? Is hier moontlik ʼn kultuurkloof wat geïdentifiseer en verstaan moet word sodat daar ʼn brug daaroor gebou kan word?

Laat ek herhaal: Dit is uiters belangrik dat ʼn volk teenoor hulself erken waar mens ’n fout gemaak het sodat mens kan besin, organiseer en optree om herhaling daarvan te voorkom.

Ons is nie naïef nie

Dit beteken nie dat ons naïef of onrealisties naïef moet wees nie. Getrouheid aan die werklikheid beteken juis om nié naïef te wees nie.

Ons is eenvoudig positief. Ons is gelowig. Ons doen wat ons hand vind om te doen, en vertrou dan die Here met die uitkomste.

Komplekse werklikheid van suidelike Afrika

Die komplekse werklikheid van suidelike Afrika is dat dit bestaan uit ʼn gemeenskap van gemeenskappe. Dit is nie ’n bipolêre swart-wit / slagoffer-boosdoener samelewing nie. Dit is in werklikheid ʼn multi-polêre samelewing, al lyk dit nie so as mens die grondwet lees of as mens politici hoor praat nie. Daar is verskeie kultuur- en geloofsgemeenskappe. Daar is verkose (politieke) leierskap, daar is tradisionele leierskap, daar is verskeie gemeenskapsinstellings wat elk sy eie struktuur het. Denke, planne en optrede wat gerig is op die toekoms moet dié kernwaarheid in ag neem.

Vryheid of veiligheid?

Ek wil graag praat oor ’n derde keuse wat elke mens, elke gemeenskap, elke volk moet maak. Dit is die keuse tussen vryheid en veiligheid. Die wyses onder ons sal uitwys dat dié saak juis anders is – veiligheid is slegs moontlik as mens vry is, die twee sluit mekaar nie uit nie, maar in. Dit is wel waar, maar mens moet seker maak dat mens ook die werklikheid hier raaksien.

Laat ek verduidelik: Vryheid kan ʼn skrikwekkende ding wees – want saam met vryheid kom verantwoordelikheid. Vryheid beteken om nie jou verantwoordelikheid uit te kontrakteer na ander mense, kundiges, ʼn organisasie en veral nie aan die staat nie. Dit is baie makliker en geriefliker om die veiligheid, en die verantwoordelikheid, te probeer vind buite jouself as om jou eie verantwoordelikheid op te neem en deel te neem aan ʼn vry gemeenskap wat self gesamentlik veiligheid verseker.

ʼn Voorbeeld oor fisiese veiligheid: In Suid-Afrika kan die staat nie my veiligheid verseker nie. As gevolg van relatief effektiewe polisiëring in byvoorbeeld Australië, kan die staat wel tot ʼn groot mate die veiligheid van burgers verseker. Maar in Suid-Afrika het ek die vryheid om ʼn wapen te besit en my skietvermoë te ontwikkel. Die keuse wat dus gemaak word is die keuse vir gedesentraliseerde vryheid eerder as gesentraliseerde veiligheid. Dit is dalk minder effektief – maar dit is oneindig meer aanpasbaar.

In die post-waarheid-tyd waarin ons lewe, waar die polisie in Westerse liberale demokrasieë met rubberkoeëls en traangas op burgers losgebrand het: mense wat betoog het vir die reg om te kan werk, besigheid te kan bedryf, vir die reg om ʼn bestaan te kan maak, is gedesentraliseerde vryheid eerder as gesentraliseerde veiligheid die wyse keuse om te maak. Want veiligheid, wat as gevolg van ’n gebrek aan vryheid nie in jou eie hande is nie, is hoegenaamd geen veiligheid nie. Dit geld op elke terrein van die lewe – dit is noodsaaklik vir werklike welstand.

ʼn Alternatiewe orde van onder af

Ons geslag het die unieke geleentheid, om, anders as in die verlede, ʼn nuwe toekoms van onder af te skep. Hierdie geleentheid bestaan omdat die huidige staat swak is en swak presteer, omdat verskillende kultuurgemeenskappe ernstige uitdagings in die gesig staar waarvan sommige gedeel word en ander nie. Gemeenskappe word na mekaar gedryf.

Ons moet oor hierdie geleentheid dankbaar wees. Ons moet dankbaar wees dat ons, hier aan die suidpunt Afrika, met al sy onsekerheid en uitdagings, die vryheid het om die keuse te kan maak om self die toekoms te skep wat ons graag wil hê.

Ons geslag se taak is om ʼn nuwe orde van onder af te skep. Ons moet ʼn netwerk van kultuurgemeenskappe vorm, ʼn bond van gemeenskappe, wat gegrond op wedersydse erkenning en respek, prakties ʼn federale, gedesentraliseerde orde ʼn werklikheid maak. Want só ʼn orde sal eenvoudig ʼn goeie passing op die werklikheid, die waarheid, wees, en het daarom ʼn goeie kans om die ruimte te skep om die oplossings wat ons nodig het, moontlik te maak.

Die verantwoordelikheid lê op elkeen van ons. Dit lê soos ʼn berg voor mens, die grootsheid daarvan laat mens klein en dalk selfs beangs voel. Maar dit is juis as mens op só ʼn punt staan – op die rand van die skrikwekkend, pragtige Drakensberg en uitkyk oor die beloofde land, en mens se nietigheid besef, dat mens dankbaar is dat mens kan bid vir wysheid en wilskrag en dan pynlik stadig, maar vasberade teen die berg afgaan – met oë opgeslaan, vertrouend op die God van hemel en aarde.

Barend Uys is hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Soortgelyke plasings