|

Dís hoe onbevoeg Cele en die SAPD is!

Nes ’n mens dink dit kan nie erger by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gaan nie, word nóg statistiek bekendgemaak wat wetgehoorsame Suid-Afrikaners tot groot kommer dryf.

Vandeesweek is onthul hoeveel vuurwapens gesteel is terwyl dit onder die toesig van die SAPD was.

Bykans 9 000 vuurwapens is sedert 2011 by die polisie gesteel waarvan slegs 889 private vuurwapens was.

Van die 8 043 polisievuurwapens wat gesteel is, sluit vuurwapens in wat gewone individue nie kan koop nie soos byvoorbeeld R5-aanvalsgewere. In die laaste boekjaar het die verlies van gewere met sowat 30% gestyg.

Hierdie inligting is bekom uit ’n vraag wat die DA in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gestel het. Slegs 33% van die gesteelde vuurwapens is teruggevind en net 35 sake is vervolg met vyf persone wat skuldig bevind is. In die sake wat wel vervolg is, was daar blykbaar in 46% van die gevalle ’n polisielid betrokke.

Maar dis nie die einde van die SAPD se treurmare nie. Bheki Cele, minister van polisie, het ook bevestig dat 7 miljoen oproepe aan die polisie se 10111-nommer oor die afgelope drie jaar onbeantwoord gebly het. Hy het die treurige situasie aan ’n nypende personeeltekort toegeskryf.

Hierdie onaanvaarbare situasie het tot gevolg dat dit toenemend slagoffers van misdaad se eerste instink is om hul buurtwag of plaaslike veiligheidsmaatskap eerder as die polisie se noodnommer te kontak, sê Jacques Broodryk, woordvoerder van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Voorts het die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se jongste jaarverslag getoon daar was 5 295 sake van wangedrag in 2021/2022 teen die polisie geregistreer. Dit sluit gevalle van moord, verkragting en marteling in. Daar was ook 223 gevalle van verdagtes wat in polisie-aanhouding dood is en 410 gevalle van sterftes aan die hand van polisie-optrede aangemeld. Opod se data toon verder dat die polisie daagliks in 14 ernstige misdade geïmpliseer word.

Die meer as 13 000 aktiewe siviele eise teen die polisie het ’n potensiële waarde van meer as R65 miljard.

Hierdie sake sal jare neem om af te handel en is nie naastenby wat uiteindelik uitbetaal sal word nie, maar in die 2020/2021- en 2021/2022-boekjaar moes die polisie bykans R1 miljard aan siviele eise opdok.

Suid-Afrikaners gaan onder ’n geweldige misdaadkrisis gebuk en byna elke vorm van ernstige misdaad het in 2022 teenoor 2021 toegeneem. Die moordsyfer het met 26,6% gestyg, seksuele misdrywe met 14,2%, verkragting met 15,2% en motorkapings met 24,7%.

AfriForum het soos opposisiepartye al verskeie kere Cele se kop geëis omdat hy duidelik geen leierskap toon nie en bevoeg is om die minister van polisie te wees.

Hy is ook nie vir enige kritiek te vinde nie en het verlede jaar sy humeur tydens ’n openbare vergadering verloor en Ian Cameron, direkteur van die burgerregtegroep Action Society, tydens dié vergadering in die Kaap verskree.

Voorts is verdoemende aantygings kort hierna teenoor hom gemaak oor inmenging by verkrygingskontrakte ter waarde van R47 miljoen vir die Fifa Wêreldbekertoernooi in 2010. Verlede jaar het hy in die parlement te kenne gegee dat 20% van die voertuie wat speurders moet gebruik buite werking is.

Baie polisiestasies in klein dorpe kan in baie gevalle nie na misdaadtonele gaan of op ’n noodgeval reageer nie omdat die polisievoertuie nie in stand gehou word nie.

Die polisie toets net 2% van DNS-monsters binne ’n maand met ongeveer 240 000 toetse wat in 2021 uitstaande was. Hierdie tipe traagheid en verlore dossiere is enkele redes hoekom soveel sake nooit in die hof kom nie, verskeie slagoffers nooit geregtigheid sal smaak nie en misdadigers steeds op vrye voet is.

Die boere van die land beskou Cele ook nie as ’n vriend nie. Hy weier steeds om plaasmoorde te prioritiseer.

Cele se onvanpaste optrede en wanadministrasie het daartoe gelei dat hy in 2009 as polisiekommissaris afgedank is, tog is hy weens politieke inmenging as geskikte kandidaat gesien en in die pos as minister van polisie aangestel. Dit gaan eenvoudig ’n mens se verstand te bowe waarom pres. Cyril Ramaphosa nog nie die dapper besluit geneem het om van Cele ontslae te raak nie.

Die kersie op die koek van Cele se onvanpaste gedrag was waarskynlik vandeesweek toe ‘n video op Twitter versprei is wat wys hoe Cele en sy konvooi ampsmotors glo geweier het om die gesin van Sbonelo Mthembu, ’n vermoorde ANC-raadslid in Piet Retief, te besoek voordat die grondpad wat hulle moes gebruik eers vir hulle geskraap is.

Met iemand so onbeholpe soos Cele as minister van polisie verwag die publiek nie meer veel van die polisie nie. Luidens ’n 2022-verslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het net 27% van respondente in ’n studie aangedui dat hulle die polisie vertrou. Hierdie lae vertroue hou nie net verband met die polisie se onvermoë om misdadigers aan te keer nie, maar ook met die behandeling wat die algemene publiek in talle polisiekantore kry. Dit is algemeen bekend dat lede van die publiek dikwels nie met respek en waardigheid behandel  word nie en boonop is dit dikwels ’n groot gesukkel om ’n verklaring af te lê omdat baie beamptes nie oor die nodige lees- en skryfvaardighede beskik nie. Dié toedrag van sake is in 2018 deur die topbestuur van die polisie erken.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook al aan Ramaphosa geskryf en gesê: “Die minister van polisie misluk klaaglik in sy mandaat om die land se burgers te beskerm en hy het reeds bewys dat hy onbevoeg is om hierdie belangrike rol te vervul.”

Soortgelyke plasings