|

AfriForum besoek Laerskool Louis Leipoldt met die teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 16 en 17 Januarie 2023 by die Laerskool Louis Leipoldt in Centurion besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde, om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle ook meer in te lig oor die gevare rondom kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het reeds byna 200 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers e 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery, asook die impak daarvan toegespreek. Ons bou deur hoop te skep om skole sowel as gemeenskappe van afknouery bewus te maak en hulle met die nodige kundigheid in staat te stel om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

“Boeliebewusmaking in skole is belangrik omdat dit die leerders sowel as hul ouers bewus maak van watter gedrag as boeliegedrag geklassifiseer kan word.  Leerders leer die gevare van boeliegedrag en waarom dit nie aanvaarbaar is nie.  Dit rus leerders wat geboelie word toe om te weet wat om te doen of waar om vir hulp aan te klop. Hierdie bewusmakingsgeleenthede skep verder ook die ideale geleentheid waar die boelie self vir sy/haar gedragsprobleme om hulp kan aanklop. Boeliebewusmaking is ’n kragtige bemagtigings-hulpmiddel waarmee leerders en ouers die siklus van boeliegedrag kan verbreek,” meen Christa Jansen, departementshoof by Laerskool Louis Leipoldt.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings