|

Drakoniese waterregulasies eintlik slinkse onteieningsplan

In wese het elke lid van die publiek kragtens die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) die reg om water vir ontspanningsaktiwiteite te gebruik. Die enigste vereiste daarvoor is dat ’n mens regmatige toegang tot ’n varswaterhulpbron, soos ’n rivier of dam, moet hê. ’n Dam wat in die besit en onder die beheer van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) is, kan eweneens vir ontspanningsaktiwiteite gebruik word, maar in só geval kan dit aan bykomende voorwaardes onderwerp word, sover dit vir die DWS nodig is om die dam te beskerm en die gebruik daarvan te bestuur. 

Hoewel ’n verskeidenheid wetgewing ’n bydraende rol speel om te bepaal of ’n mens regmatige toegang sal geniet, al dan nie, is hierdie regsposisie die vertrekpunt. Dit kan met twee eenvoudige voorbeelde van watergebruike vir ontspanningsdoeleindes geïllustreer word:

  1. ’n Seiljagklub huur grond wat aan die oewer van die Vaaldam grens by die grondeienaar, hetsy in privaat- of staatsbesit. Daardeur verkry die seiljagklub se klublede regmatige toegang om op die dam te seil, onderworpe aan sowel die klub as die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA) se veiligheidsreëls.
  2. ’n Boer se plaas grens aan die oewer van die Gariepdam. As die eienaar van die plaas het hy regmatige toegang tot die dam en nooi hy elke Saterdagmiddag ’n paar vriende uit om saam met hom ’n braaivleisvuur aan te steek en vanaf die oewer te hengel, soms tot lank ná sonsondergang.

Die voorgestelde nuwe regulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes wat Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, onlangs voorgelê het, wil hierdie bekende prentjie rakende die gebruik van die DWS se nagenoeg 320 damme landwyd ingrypend verander.

Indien hierdie regulasies soos hulle tans daarna uitsien gepromulgeer word, gaan die seiljagvaarder of hengelaar uit die bogenoemde voorbeelde hulself voortaan aan ’n misdaad skuldig maak, tensy hulle voordat hulle hierdie aktiwiteite beoefen, ’n veeleisende skriftelike aansoek en bestuursplan indien, waarvoor hulle tot 90 dae lank sal moet wag vir goedkeuring, tesame met ’n hele stel ooreenkomste wat hulle met die staat moet aangaan. Die voorwaardes van hierdie ooreenkomste is eensydig tot voordeel van die staat. Sou die seiljagvaarder of hengelaar nie hieraan voldoen nie, is hulle optrede onwettig en strafbaar met tronkstraf van tot soveel as vyf jaar, of die betaling van ’n gelykstaande boete.

Diegene wat as voorbeelde genoem is, is nie die enigste mense wat deur hierdie regulasies geraak sal word nie. Elke lid van die publiek wat aan ontspanningsaktiwiteite op damme wil deelneem, oewergrondeienaars, sportklubs, en toerisme-operateurs sal aan hierdie ingrypende regulasies onderhewig wees.

AfriForum voer aan dat die drakoniese implikasies hiervan niks anders is as ’n slinkse plan om die onteiening van wetsgehoorsame burgers se regte te bewerkstellig nie. Grondeienaars gaan van die reg om hul grond vir ontspanningsaktiwiteite op damme te benut, ontneem word. Dit sal sonder twyfel ook eiendomwaardes laat afneem. Sportklubs, sakeondernemings aan die oewers van damme, soos vakansieoorde en toerisme-operateurs, gaan ontneem word van regte wat reeds kragtens bestaande ooreenkomste onderhandel en gevestig is. Kommersiële ontspanningsaktiwiteite sal boonop slegs kan voortgaan indien ’n openbare-privaatvennootskapooreenkoms aangegaan word.

AfriForum gaan dié voorgestelde regulasies sterk teenstaan aangesien dit nie net ontspanningswatergebruikers se gevestigde regte vertrap nie, maar ook neerkom op ’n growwe oorskryding van regeringsmag. AfriForum is van mening dat die minister nie by magte is om regulasies uit te vaardig wat strydig is met die Nasionale Waterwet nie en kan ook geen regsbasis in die Nasionale Waterwet vir die gepaardgaande Waterhulpbronbestuursplanne vind nie. Hierdeur word die bestaande strukture van Opvangsgebiedbestuursagentskappe, wat die Nasionale Waterwet vir die bestuur van waterhulpbronne geskep het, omseil en sonder ’n regsbasis met ’n nuwe, parallelle struktuur vervang.

Verdere kritiek is dat die stortvloed vereistes waaraan voldoen moet word, ’n oormatige burokratiese rompslomp tot gevolg sal hê in ’n staatsdepartement wat hoegenaamd nie die kapasiteit of bevoegdheid het om dit te hanteer nie. Die oorgrote meerderheid van die vereistes het in elk geval geen invloed op watergebaseerde ontspanningsaktiwiteite nie en sal bloot die voortbestaan van sportklubs en toerisme-operateurs kelder, wat reeds onder die huidige ekonomiese omstandighede sukkel om kop bo water te hou.

Laastens glo AfriForum dat die DWS hierdie regulasies uitgevaardig het onder die dekmantel van volhoubare omgewingsbestuur en die beskerming van waterhulpbronne. Dit is egter niks anders as ’n gevaarlike ideologiese en polities gemotiveerde toertjie om die regering se verbintenis tot radikale transformasie ten toon te stel nie. Intussen probeer hulle (die regering) naarstigtelik om hiermee die aandag van hul eie mislukkings en wanbestuur van die land se waterhulpbronne af te trek. “Teen die agtergrond van damme wat met rou riool besmet is en ernstige gesondheidsrisiko’s vir die publiek inhou, is dit absurd om te dink die DWS glo die oplossing om die waarde van damme te ontsluit, is om ontspanningswatergebruikers, wat ’n minimale omgewingsimpak veroorsaak, met hierdie regulasies lam te lê,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

“AfriForum staan hierdie onregverdige inbreuk op ons regte ten sterkste teen. Die organisasie heg waarde aan die belangrikheid daarvan om ons natuurlike hulpbronne te bewaar en terselfdertyd die verantwoordelike ontwikkeling van toerisme aan te moedig. Daarom het AfriForum reeds regsadvies ingewin en sal binnekort omvattende kommentaar oor die ontspanningswatergebruikregulasies indien.”

* De Vaal is ’n raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.

* ’n Weergawe van hierdie berig het in Rapport van 8 Oktober 2023 verskyn.

Soortgelyke plasings