|

Drie nuwe AfriForum-buurtwagte help om Oos-Kaap-inwoners te beveilig

Daar sal teen einde Augustus nog drie nuwe AfriForum-buurtwagte in die Oos-Kaap wees. Uitenhage het gister ’n buurtwag gekry terwyl daar Maandag (12 Augustus) een in Rocklands, newens Port Elizabeth, gestig is. Nog ’n AfriForum-buurtwag gaan op 30 Augustus in Glenhurd, Port Elizabeth, gestig word.

“Ons het versoeke uit die gemeenskap gekry om hierdie buurtwagte te stig nadat misdaad in hierdie omgewings begin hand uitruk het,” sê David Olivier, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid in die Suidstreek.

AfriForum het reeds meer as 170 buurtwagte oor die land heen en hierdie nuwe buurtwagte sal by die bestaande AfriForum-radionetwerk inskakel. Hulle sal ook vanuit hoofkantoor ondersteun word met opleiding, administratiewe hulp, regsprosesse en toerusting wat deur hul plaaslike tak aan hulle verskaf word om hulle te help om hul pligte na te kom.

“Ons vind dat ’n aktiewe buurtwag wat gereeld patrollie ry misdadigers se vermoë om vrylik in woonbuurte rond te beweeg, beperk. Sodoende word die woonbuurt ’n moeiliker teiken met die gevolg dat misdadigers maklike teikens elders gaan soek,” sê Olivier.

Dit sluit onder meer die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ander buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, nooddienste en metropolisie in. Volgens Olivier is hierdie samewerking noodsaaklik aangesien die SAPD nie die vermoë het om by alles uit te kom nie.

“Dit is ongelukkig ’n werklikheid dat die SAPD nie die vermoë het om ons alleen te beskerm nie. Die SAPD het net meer as 170 000 lede. Dit is baie min in vergelyking met die ongeveer 2,7 miljoen geregistreerde privaatsekuriteitsbeamptes in die land. Die SAPD kan duidelik nie by alles uitkom nie en dikwels is hul reaksietye nie na wense nie. Buurtwagte kan help om hierdie leemtes te vul,” sê Olivier.

Daar word tans beplan om later ook buurtwagte in Despatch en Kareedouw op die been te bring. AfriForum-buurtwagte moet onder ’n tak ressorteer en moet minstens 30 lede hê. Alhoewel baie mense dalk dink dat ’n mens ’n vuurwapen moet hê om ’n buurtwaglid te word, is dit nie die geval nie.

“Die belangrikste eienskap van ’n buurtwaglid is ’n bereidwillige hart om ’n verskil te maak. Daar is ’n plek in ’n buurtwag vir elke persoon om ’n bydrae te maak. Jy hoef nie ’n vuurwapen te hê nie, maar indien jy een het en dit binne die raamwerk van die wet wil gebruik, sal ons opleiding verskaf om jou te help om vertroud en behoorlik behendig met die wapen te wees om sodoende nie ’n risiko nie, maar eerder ’n aanwins vir alle wetsgehoorsame mense om jou te wees,” sê Olivier.

Klik hier om meer oor AfriForum se buurtwagte uit te vind.

Soortgelyke plasings