Druk op Ekurhuleni Metro werp vrugte af – toegangsbeheerde gebiede voorlopig goedgekeur


Lede van die Kempton Park-gemeenskap in samewerking met AfriForum se Kempton Park-tak, die Edleen Proper Residents Association (EPRA) en die Kempton Park Gated Community het op 12 Oktober 2017 voorwaardelike goedkeuring van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gekry om voort te gaan met die afsper van toegangsbeheerde gebiede in en rondom Edleen in Kempton Park, onderhewig aan munisipale voorwaardes.
Dít volg nadat lede van die onderskeie organisasies op 26 September 2017 ’n vreedsame demonstrasie voor die kantore van die munisipaliteit gehou het waartydens ’n memorandum van versoeke aan Motubatse Motubatse, hoof van stadsbeplanning, oorhandig is.
Die memorandum eis onder meer dat:

  • aansoeke kragtens toegangsbeheerde gebiede ingevolge die Wet op die Rasionalisering van Plaaslike Regeringsake, 1998 (wetno. 10 van 1998) aangehoor en goed- of afgekeur word;
  • die sloer in die verwerking van huidige aansoeke summier gestaak word; en
  • korrespondensie en kommunikasie tussen die munisipaliteit en openbare aandeelhouers as prioriteit geag word.

“Ná volgehoue druk deur die gemeenskap vir byna twee jaar is hierdie vir ons ’n groot deurbraak. Die proses vorentoe behels die publisering van dié aansoeke in sowel die Staatskoerant as plaaslike koerante om finale goedkeuring te kry,” sê Rian van Jaarsveld, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.
“Ons sal aanhou om seker te maak dat ons gemeenskap se veiligheid as ’n prioriteit geag word,” sê Kevin Walker, voorsitter van sowel EPRA as die Kempton Park Gated Community.

Raak betrokke by AfriForum se Kempton Park-tak: SMS jou naam en van na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings