|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek skole in Calitzdorp

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25 April by die Hoërskool Calitzdorp, Gamka-Oos Primêr en Excelsior Primêr besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ande woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Baie dankie aan AfriForum vir die aanbieding vir die skole in Calitzdorp. Dit was prakties en treffend en die kinders se aandag is deurgaans behou.  Dit is so belangrik dat daar gebou word aan die waardes van kinders en dat ons hulle, terwyl hul nog jonk is, sal leer om reg teenoor hul medemens op te tree.  Ons waardeer AfriForum se betrokkkenheid en sien daarna uit om weer saam met hulle te werk. AfriForum se teenboelieveldtogspan is skitterende sterre in ons kinders se lewens. Gaan voort met julle goeie werk,” sê Wilma Espach, maatskaplike werker van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement.

“Kinders in ons gemeenskappe word gereeld deur volwassenes en ander kinders geboelie en besef soms nie eers dat dit verkeerd is nie.  Al besef hulle dit is verkeerd weet hulle nie altyd hoe om hulself teen hierdie negatiewe gedrag van andere te beskerm nie. Dit is so belangrikk dat ons ons kinders sal bemagtig deur aan hulle die nodige kennis en vaardighede oor te dra. Verder is dit fantasties om hulle bloot te stel aan rolmodelle wat op geestelike vlak ook insette in hul lewens kan lewer. Matteus (AfriForum se gelukbringer) en die hele boelieprogram geskoei op die wapenrusting spreek net ons kinders op ’n ander vlak toe.”

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings