| |

Duisternis op Potchefstroom se paaie ernstige bron van kommer; minstens 59% van straatligte werk nié

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het Donderdag ’n dringende skrywe aan die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit gerig oor die gebrek aan werkende straatligte op dié dorp. Die AfriForum-buurtwag het in Maart snags terwyl hulle patrollie ry, ’n opname gemaak van die straatligte in die stad wat buite werking is.

Die resultate toon dat ten minste 59% van die straatligte in Potchefstroom snags nie werk nie. Daar is minstens 91 strate waarin daar geen straatlig werk nie en wat dus pikdonker is saans. Sommige hoofstrate wat baie verkeer dra, is onrusbarend donker, waaronder Kampstraat waar vier uit die 66 ligte werksaam is, in Rocherstraat werk 11 uit 46 ligte, in Steve Bikostraat werk slegs 25 uit 106 ligte en in Chris Hanistraat werk slegs een uit die 511 straatligte.

AfriForum het aan die munisipaliteit uitgewys dat hierdie duisternis ’n “teelaarde” is vir misdaad, want misdadigers floreer waar daar nie lig is nie. Verder is dit ook gevaarlik om saans in die stikdonkerte te ry omdat die slaggate onsigbaar is en voertuie skade opdoen wanneer die bande ’n slaggat tref. Die feit dat daar op die meeste strate ook nie padmerkers geverf is nie, veroorsaak ook dat motoriste nie in die donker duidelik kan sien waar om te ry nie. Die donkerte is ook ’n gevaar vir voetgangers, want motoriste kan hulle nie sien nie en gevolglik is daar al talle voetgangers doodgery.

Hierdie oudit is ’n goeie aanduiding van die haglike toestand van straatligte wat nie werk nie. AfriForum het aan die munisipaliteit gevra om die organisasie teen 30 April van ’n plan te voorsien waarin hulle beplan om aandag te gee aan die gebrek aan werkende straatligte. AfriForum is meer as bereid om te help om hierdie groot probleem op te los.

“Hierdie is ’n baie belangrike oudit wat die buurtwag gedoen het en ons is baie dankbaar vir hul moeite daarmee. Die buurtwag kan ook eerstehands getuig van die talle probleme waarmee hulle te doen kry wat ’n gevolg is van die duisternis in die stad. Ek hoop werklik dat die munisipaliteit hierdie hulp wat aan hulle gebied word met ope arms sal aanvaar en iets daadwerkliks aan die probleem sal doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en -buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings