|

Ministeriële handboek: ANC-kaders sit in luukse ivoortoring (met elektrisiteit!)

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs gepoog om nuwe byvoordele vir ministers in werking te stel deur die ministeriële handboek te wysig, maar het ná openbare druk geswig en van sy besluit afgesien.

Hierdie byvoordele sou onder meer gratis elektrisiteit en water by ampswonings en die aanstelling van verdere personeel teen ’n koste van R87 miljoen vir die belastingbetaler insluit.

Suid-Afrika het ook een van die grootste kabinette ter wêreld wat uit 28 ministers bestaan.

Wat hierdie beoogde vergroting van die soustrein nog meer afkeurenswaardig maak, is dat Ramaphosa reeds vroeër vanjaar terugwerkende verhogings vanaf 1 April 2021 vir hooggeplaaste regeringsamptenare aangekondig het. In ooreenstemming hiermee, verdien ministers nou R2,47 miljoen en adjunkministers R2,037 miljoen per jaar. Hierdie salarisse is in Dollar-terme soortgelyk aan dié van parlementslede in hoëinkomstelande soos Duitsland, Groot-Brittanje en Frankryk. Suid-Afrika het ook een van die grootste kabinette ter wêreld wat uit 28 ministers bestaan. Om ’n idee te gee van die buitensporigheid hiervan, bestaan die VSA se kabinet uit slegs 15 lede. Hierdie  salarisse en die reusegrootte van die Suid-Afrikaanse kabinet is geheel en al bisar en onvanpas in ’n ekonomies wanfunksionerende en inwordende mislukkende staat.

Dit is egter nie al nie. Ondanks die jongste wysigings aan die ministeriële handboek wat teruggetrek is, is die huidige handboek se voordele steeds geldig. Dit sluit onder meer amptelike voertuie ter waarde van R800 000 vir ministers in beide Pretoria en Kaapstad in, gratis ampswonings, besigheidsklasvliegkaartjies, die gebruik van BBP-sitkamers by lughawens en ’n magdom ondersteunende personeel. Ministers en adjunkministers is ook te goed om, soos die res van die land, beurtkrag te trotseer. Die areas waarin die meeste ampswonings is, is daarvan vrygestel. Vir diegene van hulle wat wel in areas met beurtkrag woon, is kragopwekkers onlangs teen ’n koste van R1,3 miljoen gekoop. Ook vir die belastingbetaler se rekening. Daarbenewens het die diesel vir die kragopwekkers vanaf April tot Junie vanjaar reeds R600 000 gekos. Die ontstellendste van hierdie werklikheid is dat hospitale nie eens van beurtkrag vrygestel word nie en dat noodsaaklike operasies uitgestel moet word en pasiënte ly.

Daar kan geen gelykheid wees wanneer ‘n regering se beleide en wanbestuur van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld veroorsaak nie.

As daar gekyk word na die luukse leefstyl van kabinetsministers en die vernietigende uitwerking van hul eie mislukkings soos beurtkrag, begryp ’n mens waarom hulle ongeërg is oor die omstandighede van gewone landsburgers. Hulle leef in ‘n vakuum aangesien hulle nie verantwoordelikheid hoef te aanvaar vir hul eie klaaglike mislukkings nie. Dán het die ANC-regering nog die vermetelheid om vanuit sy ivoortoring (met elektrisiteit) te preek dat Suid-Afrika nie “gelyk” genoeg is nie. Enige rasionele mens kan sien dat die regering die oorsaak van die land se mislukkings is, ten spyte van sy media- en universiteitsprofessor-lakeie wat anders wil beweer. Daar kan geen gelykheid wees wanneer ‘n regering se beleide en wanbestuur van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld veroorsaak nie. Daar kan geen gelykheid wees wanneer ’n regering nie sy landsburgers kan beveilig of die ligte kan aanhou nie. Die regering se maniese klem op “diskriminasie” en “ongelykheid” is niks anders as ’n rookskerm waaragter hulle wegkruip en hul  verantwoordelikhede ontduik nie.

Soortgelyke plasings