|

Potchefstroom-buurtwag trek kabeldiewe met behulp van hommeltuig vas

AfriForum se Potchefstroom-buurtwag het vanoggend in samewerking met Mooirivier Beskerming en CB Sekuriteit twee verdagtes aangekeer wat koperkabels gesteel het. Hierdie diewe voer reeds maande lank ’n skrikbewind in die Suiddorp en Miederpark, maar vanoggend het hulle hul rieme styfgeloop.

Dié buurtwag het hul hommeltuigvlieënier ontbied om die verdagtes vanuit die lug op te spoor en teen 03:00 is hulle vasgetrek. Die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was ook op die toneel aanwesig en het die verdagtes in hegtenis geneem. ’n Saak van diefstal sal teen die kabeldiewe aanhangig gemaak word.

“Hierdie is weereens ’n uitstekende voorbeeld van die werk wat dié buurtwag doen. Gisteraand was die buurtwaglede nog moedeloos omdat hierdie kabeldiewe hulle konstant ontduik en vanoggend trek hulle eindelik die vermeende diewe vas. Dié situasie getuig van ’n hommeltuig se doeltreffendheid wanneer dit reg aangewend word. Die goeie samewerkingsverhouding met die sekuriteitsmaatskappye en die SAPD help natuurlik ook baie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by AfriForum se Potchefstroom-buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou: Skakel Cornelia Blignaut by 073 390 4133.

Soortgelyke plasings