|

NWU-studente blink uit in AfriForum se Dink of Sink-universiteitsdebatskompetisie

Die universiteitsuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide universiteitsdebatskompetisie het op 2 September by die Noordwes-Universiteit plaasgevind. Die deelnemende spanne het in drie rondes teen mekaar meegeding en die beoordelaars met hulle debatsvaardighede beïndruk.

In die verlede het AfriForum slegs een nasionale kompetisie vir enkele universiteitspanne aangebied. Volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, het die Dink of Sink-projekspan vanjaar egter besluit om uitdunne by verskeie instellings in die land aan te bied, ten einde Afrikaanse debat op universiteitsvlak te bevorder en aan meer belangstellendes die geleentheid te bied om deel te neem.

Die span met die meeste punte aan die einde van die drie rondes is as wenners gekroon en dring deur na die nasionale kompetisie wat op 30 September in Centurion plaasvind. Die wenners van die dag was NWU 1 wat bestaan uit Pieter Booysen, Jaco Mulder, Reuben Coetzer en Estiaan Vorster. NWU 2 was die naaswenners en die lede van dié span is Louis Breytenbach, Mienja Strauss, Johann Greenberg en Liebe Botha.

Müller het die deelnemers en beoordelaars hartlik bedank. “Die nuwe formaat van die kompetisie verseker dat Dink of Sink net nóg verder op tersiêre vlak gaan groei. Tans is studente van Akademia, die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit en die Universiteit Stellenbosch gereelde deelnemers, maar ons nooi studente van alle ander instellings uit om ook formeel of informeel hierby betrokke te raak,” sê sy.

“Die hoë gehalte van Saterdag se debatte voorspel dat dit vanjaar ’n taai eindstryd gaan wees by die nasionale finaal,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings