|

AfriForum besoek Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum met die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie en entrepreneursopleiding

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Besigheidsbytjiesspan het op 3 Julie by die Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum in Pretoria besoek afgelê as deel van hierdie entrepreneurskompetisie se leierskapsontwikkeling en entrepreneursopleiding.

AfriForum het reeds in 2019 die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie met groot sukses van stapel gestuur. Die kompetisie is intussen uitgebrei deur met ’n nuwe kategorie voorsiening te maak vir hoërskoolleerders wat ’n passie en kop het vir sake en word die Juniorpreneurs-kategorie genoem.

“AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap.

“Nadat AfriForum Sakenetwerk in 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie begin het, het ons gesien dat daar ook kinders is wat graag wil deelneem en hulle entrepreneursvaardighede ten toon wil stel. Dit is nou die vierde jaar wat ons die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie aanbied en dit is verblydend om te sien hoe die belangstelling jaarliks vermeerder en dat kinders ook raaksien hoe belangrik hulle eie ondernemings vir die ekonomie van Suid-Afrika is,” voeg Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk by.

“Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum is besonders. Die Besigheidsbytjiesspan het die voorreg gehad om met ’n paar van die leerders te gesels en hulle te vertel van entrepreneurskap. Nadat ek hulle entoesiasme tydens die praatjie gesien het, is ek vol vertroue dat hierdie leerders deurspek is met ywer om hul entrepreneuriese reise aan te pak. Hulle oë het geskitter van inspirasie, gereed om hul idees ’n realiteit te maak,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir Onderwys.

“Die kinders by Ons Sentrum ontvang daagliks terapie as gevolg van traumatiese gebeurtenisse in hulle lewens. Meeste van ons kinders is behoeftig en hulle ouers is afhanklik van staatstoelae. Daarom is dit vir ons belangrik dat ons kinders aan aktiwiteite soos entrepreneursopleiding deelneem sodat ons die siklus van afhanklikheid kan probeer breek en dan ook om ’n sterk boodskap aan hierdie kinders uit te stuur dat hulle soveel meer as hulle trauma is. Besigheidsbytjies het vir ons kinders baie beteken en hulle het dit baie geniet,” meen Yolandi Singleton, maatskaplike werker en bestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum.

Leerders, ouers en onderwysers kan www.besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting oor hierdie inisiatief. Vanjaar se wenners word op 10 Julie 2023 eksklusief op Pretoria FM aangekondig, en sal daarna op AfriForum Sakenetwerk se sosiale media bekendgemaak word. Volgende jaar sal die kompetisie weer vir laer- en hoërskoolleerders oop wees. Stuur gerus ’n e-pos na besigheidsbytjies@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings