|

Erfenisjuwele 3 – Talana Museum, Slagvelde- en Erfenispark

In die reeks Erfenisjuwele werp AfriForum lig op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, gesels met Pamela (Pam) McFadden van Talana Museum. Sy is die afgetrede kurator van die museum en ’n lid van die trusteeraad daarvan.

Baie dankie vir julle deelname aan Erfenisjuwele, Pam. Vertel ons asseblief meer van jouself?

Ek was van 1980 tot 1982 as ’n geskiedenisonderwyser by die Hoërskool Dundee werksaam. Met my aankoms in Dundee het ek by die museumkomitee aangesluit en veldwerk en navorsing in die omgewing gedoen. Ek het later uit die onderwys bedank en is aan die begin van 1983 as senior professionele beampte by die museum aangestel.

Die museum is destyds in twee klaskamers van ’n ou skool gehuisves. Die kurator, Fred Jones, was meer van ’n opsigter en ontvangsklerk, as ’n kurator.  Ek het die museum in Maart 1983 na die terrein by Talana verskuif, en daarmee het die groot taak van ontwikkeling begin, tot waar die museum vandag is.  Nadat mnr. Jones in 1984 afgetree het, het ek die kurator geword – ’n pos wat ek tot die einde van November 2022 beklee het. Die nuwe kurator, Siya Africa, het vyf jaar by die museum as assistent gewerk en sodoende met die werking daarvan vertroud geraak.

Die posbeskrywing van die kurator by die museum sluit die ontwikkeling van die museum, die insameling van voorwerpe, navorsing, fondsinsameling om die museum uit te brei en te onderhou, plus die bevordering van die museum binne die plaaslike gemeenskap, maar ook die breër provinsiale, nasionale en internasionale gemeenskap in.  Een van die maniere waarop dit destyds gedoen is, was om die Slagvelde/Battlefields-roete te ontwikkel. Die doel was om die militêre geskiedenis van die hele streek wat agt plaaslike munisipale gebiede en vyf distriksmunisipaliteite insluit, te bevorder. Hierdie roete wat ek in 1989 begin het, is een van die langste oorlewende private toerismebemarkingsinisiatiewe in die land. Talana Museum vorm die middelpunt daarvan.

Waar is die museum geleë?

Dit is op die plaas wat oorspronklik aan Peter Smith behoort het. Hy was een van die stigters van die dorp Dundee. Hy was van ’n klein dorpie in Skotland naby die stad Dundee afkomstig – vandaar die naam van sy plaas en die dorp. Die terrein lê aan die buitewyke van Dundee, in KwaZulu-Natal, aan die voet van Talanaheuwel.  Dit sluit ’n deel van die Talanaslagveld in, waar die eerste slag van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) plaasgevind het.

Die grafte van Peter an Ann Smith

Hoe lank bestaan die museum al en aan wie behoort dit?

Tydens die eeufees van die Anglo-Zoeloeoorlog in 1979 is besluit dat daar ’n museum in Dundee moet wees wat die geskiedenis van die dorp en die omgewing weerspieël. Dundee se eeufees is in 1982 herdenk, en dit het die ideale geleentheid gebied vir die opening van so ’n museum. Gevolglik is ’n museumkomitee gestig en die beplanning het begin.

Een Sondagmiddag vroeg in 1981 was komiteelede besig om die begraafplaas aan die voet van Talanaheuwel skoon te maak.  George Buntting, wat een van die stigterslede was, het staan en rondkyk. Skielik sê hy: “Dit is die perfekte plek vir die oprigting van die museum. Dit is waar alles begin het.” Ons het dadelik met die destydse eienaars van die eiendom onderhandel en hulle het ingestem om die eerste 20 hektaar van die grond te verkoop.

Die oorspronklike ooreenkoms in 1981 met die plaaslike stadsraad was dat die munisipaliteit 20% van die koopprys van die eiendom sou bydra, die provinsie Natal 80% en die museumkomitee sou al die fondse insamel om die museum te bou en te ontwikkel.

Hierdie komitee het gefunksioneer tot ’n verandering in 1995 van die provinsiale wetgewing wat bepaal het dat die komitee ’n raad van trustees moes word. Dié raad bepaal die museumbeleid, versamel en bewaar items, en samel fondse in om die museum operasioneel te hou. Alle trustees is vrywilligers en ontvang geen vergoeding nie.  Die stadsraad betaal die salarisse van tien personeellede en die raad van trustees kontrakteer verder uitgesoekte personeel met spesiale vaardighede om die museum oor naweke en op openbare vakansiedae te bedryf. Die trustees bestuur ook ’n aantal vrywilligers wat help met navorsing, digitalisering van die uitgebreide argiefversameling en ander aksies om te verseker dat die hoogste standaarde gehandhaaf word ten opsigte van die uitstallings, instandhouding en bewaring van die versamelings. Die hele museumversameling is in ’n privaat trust wat deur die raad van trustees bestuur word.

Soos ons uit die naam kan aflei, praat ons hier van meer as net ’n museum.  Wat sluit die terrein alles in?

Deur die jare is meer van die oorspronklike plaas bygekoop om te verseker dat al die erfenisterreine met betrekking tot die Slag van Talana by die museumperseel ingelyf word. Dit beslaan nou 310 hektaar. Die eerste georganiseerde mynbou vir die ontginning van steenkool in Suid-Afrika het ook in die kontrei plaasgevind. Dundee was die kern van die rykste steenkoolproduserende gebied in die land, en het die bynaam “Coalopolis” gehad. Die Dundee Coal Company is selfs in 1889 op die Londense aandelebeurs gelys. Die oorspronklike Smith-plaasgeboue, die opstal van Peter en sy seun William Craighead, die koelkamer, plaasskure, melkstal, waenhuis en timmermanswerkswinkel, sowel as die Smith-familie- en die militêre begraafplaas van die Slag van Talana vorm die kern van die museum.

Die meeste van die oorspronklike geboue is opgeknap vir die eeufees in 1982. Dit is gedoen met die finansiële hulp van afstammelinge van stigters van die dorp, plaaslike boere, asook plaaslike en nasionale besighede soos Corobric, Yskor en Consul Glass, wat almal bande met die dorp gehad het.

Uitstallings word vandag in 22 geboue op die eiendom gehuisves. Dit sluit die genoemde oorspronklike plaasgeboue, asook heropgerigte geboue uit die omgewing in. Sewe daarvan is vanaf Durnacol-myn hierheen verskuif. Die heropgerigte mynwerkershuisie (circa 1913) is van Ballengeich-myn afkomstig en dien tans as ’n restaurant op die terrein. Dit staan bekend as Miners Rest.

’n Verdere 16 geboue in die tradisionele Zoeloe-dorpie word as bed-en-ontbytakkommodasie op die perseel benut.    

Verblyf word by die Talana Museum aangebied.

Uitstallings sluit naas items en geboue van die Smith-familie, meer as 25 waens in, asook landboutoerusting, mynboutoerusting, die glasmuseum, uitstallings oor die geskiedenis en ontwikkeling van Dundee, groot militêre uitstallings, tradisionele Zoeloe-kultuuritems, ’n lokomotief wat gebruik is om steenkool op die Natalse myne te vervoer en ’n treinwa wat oorspronklik deur die Natalse steenkoolmyne as konferensiekamer en BBP-sitkamer gebruik is.

Die Satyagraha-sentrum vertel die verhaal van die Indiërs in KwaZulu-Natal en hul vestiging in die omgewing van Dundee, asook die betrokkenheid van Mahatma Gandhi hier. Die hofgebou waarin hy in 1908 en weer in 1913 verhoor is, is buite die perseel in die midde-dorp, maar vorm ook deel van die museum.

Op die uitgebreide terrein is al die bome en plante geïdentifiseer met hul botaniese, Engelse, Afrikaanse en Zoeloe-name, met inligting oor hoe dit in tradisionele medisyne gebruik word daarby. Daar is reeds 113 voëlspesies op die terrein geïdentifiseer.

’n Staproete teen Talanaheuwel, in die voetspore van die Britse soldate, lei na die Boereskuilings en die Britse fort bo-op. ’n Klein entjie se stap van die geboue af neem besoekers na die plek waar luitenant-generaal sir William Symons, die offisier in bevel van die Britse magte, dodelik gewond is. Hy het die dag na die slag in die Britse kamp gesterf en is begrawe op die terrein van die Anglikaanse kerk in Dundee.

Ongeveer hoeveel besoekers ontvang julle per jaar?

Voor 2020 was ons gemiddelde besoekerstal tussen 30 000 en 35 000 mense per jaar. Die pandemie het egter ernstige gevolge gehad en dit verg heelwat moeite om ons getalle weer op te bou. Tans is daar gemiddeld tussen 1 000 en 1 500 besoekers per maand.

Alhoewel alle uitstallings se byskrifte in Engels is, het elke uitstalling ’n inleidende paneel in Engels, Afrikaans, Zoeloe, Frans en Duits. Ons gedrukte besoekersgidse is ook beskikbaar in Afrikaans en Zoeloe. Spesialisgidse wat hier beskikbaar is, kan Engels, Afrikaans en Zoeloe praat, en ons het ook toegang tot Frans- en Duitssprekende gidse. Toeriste kan hulle betaal vir besoeke aan onder meer die nabygeleë slagvelde, die omgewing waar hulle Zoeloe-kultuur en tradisies kan ervaar, die Maria Ratschitz-sendingstasie in die Wasbankvallei, ’n staptoer langs die Dundee Heritage-roete en vele meer.

Waaroor is die besoekers gewoonlik opgewonde as hulle julle besoek?

Baie van ons besoekers is geïnteresseerd in die militêre geskiedenis, steenkoolmynbou of het familieverbintenisse met die Smiths en ander vroeë inwoners van die dorp. Museumnavorsers en -personeel beantwoord voortdurend vrae of soek inligting in die argiewe op vir besoekers wat meer wil weet oor hul families se geskiedenis in die omgewing. 

Besoekers word ook gefassineer deur die verhaal van die glasfabriek en die uiteenlopendheid van die glasuitstalling, sowel as die wonderlike kralegalery met kralewerk uit Europa en Indië, asook van Zoeloe-, Xhosa-, Fingo- en ander Afrika-stamme.

Die steenkoolmynuitstallings en mynmasjinerie fassineer veral skoolgroepe.                                                                                                                  

Besoekers lewer altyd kommentaar oor die netheid van die terrein, die ruimte, die kwaliteit van die uitstallings en hoeveel daar is om te sien. Hulle onderskat dikwels die hoeveelheid tyd wat hulle benodig om alles behoorlik te verken.

Die museum se glasuitstalling is gewoonlik ’n hoogtepunt vir besoekers.

Jy noem dat julle ook skoolgroepe ontvang. Vertel ons meer daaroor asseblief?

Ons beskou kinders as die toekoms van ons land en as sodanig moet hulle leer oor die erfenis van hul plaaslike omgewing en die breër streek. Syfers toon dat sowat 35% van ons besoekers skoolkinders is en ons wil graag nog meer hier verwelkom. Met die herbekendstelling van geskiedenis as vak in die kurrikulum, het die museum begin met die aanbied van lesings en begeleide toere deur die museum, asook langs die erfenisroete in die dorp wat by die kurrikulum aansluit.                                                               

Om plaaslike skole te ondersteun en aan te moedig om die museum gereeld te besoek, bied die raad van trustees ’n program van ses gratis skoleweke per jaar aan. Skole moet vooraf bespreek en kry dan gratis toegang met ’n geregistreerde spesialisgids vir ’n deel van hul besoek. Skole word aangemoedig om op meer as een besoek te kom en net enkele gedeeltes van die museum op ’n keer te verken, eerder as om alles in een besoek te probeer sien. Hulle is welkom om die hele dag by die museum deur te bring en ’n piekniek-middagete saam te bring.

Wat bied julle vir besoekers aan wat daarvan hou om in die buitelug te ontspan?

Daar is ’n baie goeie restaurant op die perseel, en braai-areas is beskikbaar. Ons verwelkom besoekers wat piekniek wil hou – tafels en sitplekke is oral op die perseel te vinde.

Die staproete teen Talanaheuwel lok baie besoekers, veral plaaslike inwoners wat hul honde vir vroeë Saterdagoggend staptogte bring.

Julle beskryf die museum as “die grootste herwinner”. Waarom?

Museums is puik herwinnaars. Alles wat geskenk word, word herwin – items kry ’n tweede lewe in die museum. Ons versamel van die heel kleinste tot die allergrootste items, soos die stoomlokomotief wat 128 ton weeg. As ons dit nie gedoen het nie, sou dit verlore gegaan het en sou daardie stukkie van die geskiedenis van ons dorp of deel van ’n familieverhaal verdwyn het.

Ons het ook agt geboue na die museum verskuif wat andersins gesloop sou word. Van baie ander ou geboue het ons meubels en boumateriaal versamel vir hergebruik. Elektriese bedrading van myne wat gesluit is, is versamel en deur handwerkkunstenaars gebruik om  aandenkings te maak wat in die museum verkoop is.

’n Stoomlokomotief wat 120 ton weeg word by die Talana Museum uitgestal.

Wat was ’n onlangse hoogtepunt op julle program?

Ons erfenismodeskou van 11 Mei 2024, waartydens meer as 60 kledingstukke van 1890 tot 1980 ten toon gestel is. Met die hulp van 25 modelle en 16 koreograwe het ons gewys hoe mense geklee was en geleef het deur die eeue heen en hoe delikaat die klere was. Ons het die verhale van die oorspronklike eienaars en mense wat hierdie klere gedra het, daarmee saam vertel.

Is daar ander uitsonderlike funksies of byeenkomste wat julle jaarliks aanbied?

Ja, byvoorbeeld die Biggarsberg Cycle Challenge – ’n padfietswedren van onderskeidelik 34 en 75 km wat deur Dundee en die omliggende berge gaan en vanjaar op 16 Junie plaasvind.

Die jaarlikse Talana Live-naweek herdenk die Slag van Talana en vind plaas op die naweek die naaste aan 20 Oktober, die datum waarop die slag plaasgevind het. Die program sluit ’n spookloop, gevegsdemonstrasie, historiese gesprekke, mark op die terrein en toere in. Die geleentheid om kostuums uit die periode aan te trek en ’n foto saam met die “soldate” te laat neem, is altyd baie gewild.

Verder word daar ook markdae en uitstallings van veteraanmotors gehou.

Wat is die uitdagings wat julle al moes oorkom?

Eerstens, om vrywilligers te vind wat bereid is om hul tyd en vaardighede aan te bied om die museum by te staan. Tweedens om ’n gesonde trustfonds op te bou en te onderhou, sodat die rente wat verdien word, die maandelikse finansiële uitgawes kan dek.

As julle ’n wenslysie vir die volgende jaar of twee kon opstel, wat sou daarop wees?

Om huidige vrywilligers en borge te laat besef hoe waardevol hulle vir die museum is, dan om nog meer vrywilligers te vind om betrokke te raak, asook borge (finansieel, of as skenkers van goedere en dienste) wat ons visie vir die museum deel.

As mense historiese voorwerpe of dokumente het wat hulle graag wil skenk, met wie moet hulle kontak maak?

Skenkings moet die geskiedenis van ons omgewing help uitbou. Bykans alles is welkom en voornemende skenkers kan met die kurator kontak maak.

Hoe kan lede van die publiek nog betrokke raak?

Hulle kan vrywillig deeltydse navorsing in die museum doen, historiese dokumente digitaliseer, dokumente uit tale wat hulle verstaan in Engels en Afrikaans vertaal, help om uitstallings skoon te maak en op te knap, praatjies vir skool- en belangegroepe aanbied, op komitees dien om geleenthede by die museum te reël, asook om artikels en promosiemateriaal vir die museum te skryf. Vaardighede wat hulle kan bied, soos naaldwerk, opknapping van geboue, herstel van masjinerie, rekenaar of sosiale media kennis, sal nuttig wees.  Hoe meer vrywilligers betrokke is, hoe meer bekend sal die museum se bedrywighede word.

Ten slotte, wat is julle advies aan enigeen wat ’n erfenisbaken of -terrein wil aanneem en regruk?

Doen dit! Ek staan tans ‘n gemeenskapsgroep in Vryheid by wat dit pas reggekry het om die Ou Raadsaal en tronkselle van die plaaslike munisipaliteit te kry, aangesien die munisipaliteit nie meer ’n museum wil onderhou nie.

My raad was om ’n toegewyde en entoesiastiese vrywilligerskomitee te kry, met ’n voorsitter wat passie en dryfkrag vir die projek het. Dit vereis ook entoesiastiese historici, ’n prokureur, rekenmeester, plaaslike sakelui en individue.

Betrokkenes moet die geskiedenis ken, ’n goeie reputasie en vertroue opbou. Hou by jou woord en eerbiedig alle ooreenkomste, maak nie saak wat jy moet doen om dit reg te kry nie. Kry baie plaaslike vrywilligers betrokke en laat hulle lus voel om iets terug te gee aan hul gemeenskap.

Pam, ek dink dit is wat julle uitstekend regkry – ons bedank julle vir jare se liefdesdiens aan die museum en julle omgewing se geskiedenis en erfenis. AfriForum wens julle voorspoed toe en sal graag betrokke bly waar ons kan.

Talana Museum, Slagvelde- en Erfenispark se kontakbesonderhede is: telefoonnommer 034-212-2654; e-posadres info@talana.co.za; webtuiste www.talana.co.za; Facebook/talanamuseum; en X/talanamuseum.

Soortgelyke plasings