|

Forum is op pad na ons lede!

In die jongste uitgawe van Forum, AfriForum se tydskrif vir sy lede, val die fokus op federalisme as alternatief tot die ANC-regering se mislukte beleid en benadering van sentralisme.

Dit is duidelik dat die oorsaak vir die probleme in die land veel dieper lê as net korrupsie, swak leierskap en onbekwame amptenare.

Suid-Afrika het ’n bedelingsprobleem genaamd sentralisme. In ’n land wat oppervlakgewys so groot soos talle Europese state is, is dit onafwendbaar dat ’n sentralistiese regering wat vanuit Pretoria wil besluit wat goed is vir elke gemeenskap, dorp, streek en provinsie sal misluk. Die werklikheid is dat elke gemeenskap, dorp, streek en provinsie veel beter weet wat die beste vir hulle is en self moet kan besluit oor sake wat hulle direk raak!

AfriForum is van mening dat federalisme veel meer is as net ’n staatkundige term wat die afwenteling van mag van die nasionale regering na provinsies behels. Dit is ook die basis vir ’n selfdoeningesteldheid waar gemeenskappe op grondvlak self beheer oor hul toekoms neem.

In hierdie uitgawe van Forum is dit reeds duidelik hoe ver gemeenskappe in terme van die selfdoen gevorder het met tientalle projekte wat AfriForum-takke en vrywilligers regoor die land aanpak en in stand hou. Daar is ook ’n artikel met voorbeelde oor hoe federalisme regoor Europa ’n oplossing is wat werk.

Ons werp ook meer lig op die totstandkoming van die Kaapse Forum en die groot werk wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid doen. Terwyl AfriForum kliphard werk om selfstandigheid in gemeenskappe te bevorder, erken ons ook dat interkulturele verhoudings en samewerking ook ’n noodsaaklike deel van ons vryheidsplan is. Lees gerus meer oor samewerking tussen die organisasie en die Barolong Boo Seleka-tradisionele gemeenskap.

Daar is ook artikels oor erfenis, taal, kultuur, onderwyskwessies en vele meer. Moet ook nie die woordblok vergeet waarmee jou soekvernuf uitgedaag word nie. Die jongste Forum kan ook gelees word op www.forumtydskrif.co.za

Soortgelyke plasings