| | | |

Buurtwagte weer operasioneel danksy volgehoue druk deur AfriForum

Albert Fritz, Minster van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het vandag aangekondig dat die Nasionale Sekretaris van die SAPD aangedui het dat buurtwagte weer hul pligte kan hervat.

Dit volg ná AfriForum ’n skrywe aan Bheki Cele, Minister van Polisie, gerig het en die belangrikheid van buurt-, kleinhoewe- en plaaswagte voortdurend in die media uitgelig het. Ander organisasies en rolspelers het dié voorbeeld gevolg om bewustheid te skep. AfriForum se petisie om buurt-, plaas- en kleinhoewewagte toe te laat om hul veiligheidsinisiatiewe te hervat, is deur ongeveer 30 000 bekommerde mense onderteken.

“AfriForum se nagenoeg 150 veiligheidstrukture landwyd sal sonder skroom weer voortgaan om hul gemeenskappe te beveilig. AfriForum is gereed om strukture te ondersteun in die stryd teen die moontlike vlaag van verdere misdaad wat moontlik kan ontstaan weens die ekonomiese skade wat die deur die inperking veroorsaak is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid.

Die buurtwagnetwerk, wat 12 000 vrywilligers sterk is, sal misdaad nou weer in noue samewerking met ander wetstoepassingsowerhede die stryd aansê. Hulle sal nou hul gemeenskappe na behore kan beveilig sonder dat regulasies weerbaarheidverbeteringspogings kniehalter.

Soortgelyke plasings