Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek voortgegaan om teen staatsverval te veg, gemeenskappe te beveilig en in te tree waar die regering sy plig versuim.

’n Omvattende verslag oor die agteruitgang van staatsondernemings en die impak wat dit het, is aan die Verenigde Nasies se Menseregteraad voorgelê. Hierdie verslag toon die negatiewe impak wat mislukkende staatsondernemings op dienslewering het en ook die talle uitdagings soos korrupsie, wanbestuur, politieke inmenging en staatskaping wat die afgelope 20 jaar ervaar word.

AfriForum het ook ’n regsbrief aan die Nasionale Tesourie gestuur waarin antwoorde geëis word oor bewerings dat die belastingkorting op mediesefondsbydraes geskrap gaan word. Dit kan rampspoedige gevolge inhou vir individue en mediese skemas.

Uitspraak is in die Hooggeregshof in Pretoria voorbehou in die saak waarin AfriForum Eskom wil dwing om inligting oor die kragreus se bestaande steenkool- en dieselkontrakte bekend te maak.

Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, se aansoek om ontslag van aanranding en crimen injuria is in die Landdroshof in Johannesburg van die hand gewys. AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun vir sers. Lizzy Mojapelo, ’n beskermings- en veiligheidsdienste-beampte, in hierdie saak nadat Mhlakaza-Manamela haar na bewering aangerand het.

AfriForum, Saai en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi Tradisionele Gemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in Noordwes, het by vier skole bome geplant. Die leerders het geleer hoe bome geplant en versorg moet word en het nou die geleentheid om meer oor die landbouwaardeketting en selfstandigheid te leer.

AfriForum se Germiston-buurtwag het die polisie tydens ’n operasie gehelp om onwettige mynwerkers (zama-zamas) in die Primrose-omgewing vas te trek en talle uit hul wegkruipplek te verjaag.

AfriForum se Bellville- en omliggende buurtwagte wat deel vorm van die Kaapstad-Noord-tak het tydens Oktober verskeie veiligheidsaksies uitgevoer. Ongeveer R30 000 se boetes is deur wetstoepassers uitgereik by ’n voertuigkontrolepunt waar die buurtwag gehelp het en dié buurtwagte het ook kort voor die Rugby Wêreldbeker-eindstryd ’n patrollie onderneem.

Die Songloed-buurtwag in Klerksdorp is nou toegerus met ’n mobiele brandbestrydingseenheid sodat dié buurtwag proaktief kan optree indien ’n brand ontstaan. Tien lede van die Midvaal-buurtwag en lede van plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum het opleiding in basiese wapenhantering ontvang.

Die Overstrand-tak het 30 inheemse bome waaronder geelhout, assegaai, witpeer en kusvaalbos, by Laerskool Kleinmond geplant.

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het hulle goeie werk om die dorp se paaie te verbeter voortgesit en het in Oktober 61 ton warm teer gebruik om slaggate te herstel.

Nadat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit in Parys nie ’n lekkasie by ’n watertenk herstel het nadat dit aangemeld is nie en vir maande al ’n probleem is, het die AfriForum-tak op dié dorp self ingegryp en die lekkasie herstel.

Die Heilbron-tak het 13 stoptekens op die pad weer duidelik geverf en stoptekens by die vierrigting in Langmarkstraat opgerig. Die span het ook gesorg dat die padgeute skoongemaak word waar die padtekens geverf is.

In Machadodorp het die tak waarskuwingsborde opgerig wat motoriste waarsku oor die swak toestand van die R541 wat erg beskadig is weens grondverskuiwings en sinkgate.

Die AfriForum-tak in Nelspruit het ’n noodwaterpunt by die Nelspruit Nederduitse Hervormde Kerk opgerig aangesien inwoners soms nie water het nie. Die tak het verder ’n LPR-kamera in Dr. Enos Mabuza-rylaan opgerig wat die buurtwag sal help om voertuie wat by misdaad betrek word, te identifiseer en op te spoor.

Soortgelyke plasings