|

Nuuskommentaar: Die skuldstrik span stywer, maar die regering bly wanbestee

Die pas waarteen die Suid-Afrikaanse regering fondse bestee op internasionale gaste en -reise terwyl kinders met geskeurde klere na skole moet gaan waar die mure skaars regop bly, behoort elke Suid-Afrikaner dwars in die krop te steek. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) het onlangs gesê dat die bykans R180 miljoen wat in Augustus op die BRICS-beraad spandeer is, wel die moeite werd was, al is dit nog onduidelik wat hierdie beraad nou juis vir Jan Burger gaan beteken.

Die Springbokke het wel die beker huis toe gebring, maar dit het ’n bitter smaak in die mond gelaat toe ’n selfvoldane video ná die eindstryd op die president se amptelike X-profiel gedeel is met die woorde: “One President. Two Rugby World Cup wins. South Africa is a winning nation.” Praat van ploeg met ’n ander man se kalwers … Die Springbokke het gebruik gemaak van die geleenthede wat tydens mediakonferensies daargestel is om dit duidelik te maak dat hulle een van die min dinge in Suid-Afrika is wat wel werk en wat wel hoop skep waar daar baie min hoop oor is.

Die afvaardiging van ANC-lede wat die Rugby Wêreldbeker-eindstryd in Parys bygewoon het, het ook die wenkbroue laat lig. Wat het die ministers van Polisie, Vervoer en Korrektiewe Dienste met die Springbokke te doen? Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het veral die tonge laat klap met sy hommelby-sweetpak van Dolce & Gabbana wat amper R29 000 kos – en dit is op die uitverkopingprys. Ministers reis die wêreld vol in sweetpakke wat nagmerries kan veroorsaak en omtrent ’n middelklas werker se volle maandelikse salaris uit die sak sal jaag, maar terselfdertyd wil hulle praat oor ongelykheid en onregverdigheid.

Terwyl grappies oor hierdie interessante uitrusting gemaak is, het AfriForum se Interkulturele Verhoudings en Samewerking-span, Saai en Witkrans Sitruskwekery skole in Disaneng besoek om saam met die kinders bome te plant. Kinders wie se skoolskoene deurgeloop is, wie se truie en baadjies vol gate is en wat steeds, selfs al is dit ysig koud, opdaag om onderrig te ontvang. Hierdie afdeling wys dat praat én doen nodig is om brûe tussen verskillende kultuurgemeenskappe te bou en selfstandige gemeenskappe te kweek.

Die regering kan R180 miljoen bestee op internasionale gaste, beplan om miljoene rande aan ander lande te skenk en sogenaamde superfêns na sportgeleenthede oor die wêreld heen te stuur, maar intussen sink Suid-Afrika dieper en dieper weg in skuld. Skuld wat gebruik kon word om infrastruktuur op te knap, gehalte-onderrig te verseker en die polisie te finansier. Volgens die mediumtermynbegroting moet Suid-Afrika in hierdie stadium reeds meer as R550 miljard leen om kop bo water te hou en teen einde Maart 2026 sal Suid-Afrika se staatskuld sowat R6 000 miljard beloop. Snaaks hoe daar sedert 2013/14 amper 45 000 ekstra staatsamptenare is wat elk meer as R1 miljoen per jaar verdien, al is staatskuld skrikwekkend hoog.

Die werkloosheidsyfer styg, kinders gaan honger skool toe en belastingbetalers se beursies moet oop bly al kry hulle min in ruil daarvoor, maar die regering kan aanhou leë beloftes maak, aanhou skuld maak en steeds ander se prestasies as hul eie eien.

Soortgelyke plasings