|

Nuwe netbaldokumentêr: Rolspelers praat oor viktimisering, wanbestuur en magsmisbruik in Netbal SA

AfriForum Sport het vandag die tweede episode in die dokumetêrereeks oor netbal in Suid-Afrika bekendgestel. Prominente netbalrolspelers het in Interference in and mismanagement of sport in South Africa na vore getree oor beweerde viktimisasie, wanbestuur en magsmisbruik in Netbal Suid-Afrika (SA) en staaf die bewerings wat in die eerste episode vroeër vanjaar gemaak is.

Joseph Taylor, ’n gekwalifiseerde netbalafrigter en skeidsregter, Eric Mathabatha, netbalafrigter, en Mimi Zulu, voormalige president van Netbal SA, vertel in die nuutste dokumentêr wat die stand van sake in Netbal SA is, hoe sake bestuur word en hoe Cecilia Molokwane, president van Netbal SA, glo individue en selfs kinders viktimiseer.

Mathabatha vertel dat geld glo uit hulle netbaldistrik se rekening verdwyn het in ’n tydperk waarin hulle nie wedstryde gespeel het nie. Die persoon wat steeds tekenreg op die rekening gehad het, was nie meer op hulle bestuur nie en het glo bande met Molokwane. Hy sê voorts Molokwane het hulle plaaslike wedstryde bygewoon en gesê sy is slegs daar as ’n toeskouer en nie in haar hoedanigheid as president van Netbal SA nie. Tydens hierdie wedstryde het sy opmerkings gemaak oor ’n speler se tekkies en ’n ander speler (’n kind) aangevat oor die bewoording op haar T-hemp. Volgens Mathabatha was albei kinders baie ontsteld en het dit veroorsaak dat die een nie eens meer by netbal betrokke is nie.

Volgens Taylor het hy nadat hy die eerste dokumentêr The true state of affairs in Netball SA gekyk het, besluit om na vore te tree en sy ervaring te deel – veral nadat dit geblyk het dat die kommentaar van mense was dat die dokumentêr rassisties is omdat Molokwane swart is.

“Ek word geviktimiseer, uitgegooi wanneer wedstryde plaasvind en ek word soos ’n krimineel hanteer. Dit het ’n negatiewe impak op my geestesgesondheid en beïnvloed my beeld in die kringe waarin ek beweeg,” sê hy.

Zulu verduidelik ook hoe prosesse in haar ampstermyn gewerk het en sê sy weet nie of dinge steeds so werk nie. Uit die ander twee se vertellings kan daar afgelei word dat Molokwane moontlik haar mag as president van Netbal SA misbruik deur mense aan te stel en te keur vir spanne se bestuur.

AfriForum het vroeër ’n brief aan Saskok gestuur en gevra om die aantygings wat oor Netbal SA gemaak is, te ondersoek. Saskok het nie op dié brief gereageer nie. Volgens Ronald Peters, bestuurder van Sport by AfriForum, is dit duidelik dat daar ’n diep gewortelde probleem in Netbal SA is en dat daar dringend ingetree moet word.

“Die viktimisasie en persoonlike wraakaanvalle wat aan die lig gekom het, is onaanvaarbaar. Dit beskadig die reputasie van netbal in Suid-Afrika en ontmoedig die deelname en ontwikkeling van potensiële atlete en afrigters. Ons kan nie toekyk terwyl die waardes van regverdige spel en respek – wat die hoeksteen van sport is – afgewater word deur die individue wat juis vertrou word om dit te handhaaf nie,” sê Peters.

Soortgelyke plasings