|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek weer kommentaar teen die beoogde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) ingedien en gaan ook voorleggings by twee geleenthede van die Verenigde Nasies (VN) doen om vir regte van minderheidsgroepe in Suid-Afrika te veg.

Verteenwoordigers van AfriForum is op pad na die VN om vir die regte van minderheidsgroepe te veg. Die doel van die besoek is om internasionale bewustheid te skep oor die kommerwekkende vlakke van diskriminasie, rasgebaseerde wetgewing en haatspraak wat minderhede in Suid-Afrika teiken. Die Suid-Afrikaanse regering het nie verlede jaar vir hul spreekbeurt by dieselfde geleentheid opgedaag nie.

Openbare verhore vir die BELA-wet is hierdie week in Mpumalanga gehou. AfriForum het skriftelike kommentaar by die provinsie se wetgewende gesag hieroor ingedien en sal sover moontlik verdere verhore in Mpumalanga bywoon. Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is vorige raadplegingsessies goed ondersteun. ’n Oorweldigende aantal teenwoordiges het tydens dié sessies daarop gewys dat die konsepwet artikels bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig oor die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou.

Nóg ’n raadplegingsessies sal op 29 November in die Vukuzakhe Gemeenskapsaal, in die Pixley Ka Seme Plaaslike Munisipaliteit gehou, terwyl die publiek ook die geleentheid het om die sessie by te woon wat op 30 November in die Jepees Reef Gemeenskapsaal, in die Nkomazi Plaaslike Munisipaliteit, aangebied gaan word. Albei sessies word van 10:00 tot 13:00 gehou.

AfriForum het ook Vrydag (24 November) kommentaar ingedien op voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir openbare skole in Gauteng. Dié wysigings het onder meer betrekking op die samestelling van beheerliggame van skole met leerders met spesiale behoeftes. Daar word ook voorgestel dat ’n persoon nie in ’n ampsposisie in die beheerliggaam van meer as een skool mag dien nie.

Met die toenemende aantal vals klagtes van rassisme wat tans in die land voorkom, het AfriForum vandeesweek ’n platform bekendgestel waar diegene wat valslik van rassisme aangekla word, kan aanklop om hulp. Om in Suid-Afrika van rassisme beskuldig te word, is ’n ernstige aanklag waarmee ’n persoon gebrandmerk kan word – veral wanneer hierdie aantygings in die publieke oog afspeel. Iemand kan binne dae, of selfs ure, in diep moeilikheid wees wanneer hy/sy van rassisme aangekla word. Hoewel daar geen plek vir diskriminasie of haat in Suid-Afrika is nie en bona fide-gevalle van rassisme ten sterkste veroordeel moet word, is daar ook nie plek vir vals aantygings nie.

“Geen persoon verwag redelikerwys van ’n ander om skuld te aanvaar en te boet vir ’n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie. Tog is dit presies wat gebeur wanneer valse bewerings van rassisme teen ’n persoon gemaak word. Ons wil graag hierdie tendens in die kiem smoor,” verduidelik Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum. Besoek die platform hier.

In die Vrystaat het AfriForum en die Winburg-distrikslandbou-unie (WDLU) onlangs kragte saamgesnoer om die nood onder die boerderygemeenskappe van Brandfort, Theunissen, Winburg, Senekal en Marquard te help verlig. Dié gemeenskappe is in September en Oktober lamgelê deur verwoestende brande wat duisende hektaar se weiding verwoes en tot die vrektes van groot hoeveelhede vee en wild in dié gebied gelei het. AfriForum het gehelp toesien dat meer as 300 bale veevoer by aangewese punte afgelaai word.

In die suide van die land het buurtwaglede in George opleiding ontvang in die korrekte hantering van geweldmisdaad- en ongelukstonele. Die opleiding het onder meer gewys op toneelafsperring en die korrekte insameling- en bewaringsproses van bewysstukke.

In Bloemfontein het AfriForum ’n memorandum oor swak dienslewering aan die Mangaung-metro oorhandig. In die memorandum eis AfriForum dat daar onmiddellik opgetree word om die swak vullisverwyderingsdiens wat dié metro lewer, reg te ruk. AfriForum dring ook daarop aan dat die meer as 600 inwoners, wat reeds sedert September 2020 van AfriForum se eie vullisverwyderingsdiens gebruik maak, kwytgeskel word van betaling vir die metro se vullisverwyderingsdiens.

AfriForum het ook in Pretoria ingegryp om ’n vervalle pad voor Laerskool Anton van Wouw in dié stad reg te maak. Die herstelwerk, waarvoor 15 ton teer gebruik is, is oor ’n tydperk van twee dae aangepak en het die selfdoen-benadering van AfriForum benadruk.

Soortgelyke plasings