|

Nuuskommentaar: Privaat sektor moet help, maar Ramaphosa en kie vermors geld

President Cyril Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê die land se werkloosheidskrisis kan net oorkom word as die privaatsektor aanboord kom. Dit kom in dieselfde week as wat adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer (OB), se verskyning voor die parlementêre art. 194-komitee vir die soveelste keer in chaos geëindig het.

Terwyl die publiek se geduld al lankal met haar en die growwe geldvermorsing op is, het sy vandeesweek verder kole op haar eie getuienis voor die komitee gegooi. Sy het geweier om sonder regsverteenwoordiging verder te getuig, waarna die komitee besluit het om met hul verrigtinge voort te gaan. Sy dreig nou opnuut met regstappe teen die komitee.

In die boekjaar 2022-’23 het die begroting vir dié omstrede saak meer as R 26 miljoen beloop en volgens adv. Dali Mpofu (SC), Mkhwebane se regsverteenwoordiger, is daar net tot die einde van Maart begroot vir haar regsverteenwoordiging. Die uiteinde hiervan is seker dat die saak waarskynlik nog baie lank gaan sloer wat ’n ondubbelsinnige misbruik van belastingbetalers se geld is!

Alhoewel R26 miljoen nie kleingeld is nie, is dit ’n druppel in die emmer vergeleke met die geld wat by Eskom vermors word.

André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het vandeesweek in ’n beëdigde verklaring verskeie gevalle van sabotasie, verwoesting en onwettige aktiwiteite by Eskom uitgewys.

Hy noem onder meer van ’n brand by die Majuba-kragstasie wat tot skade gelei het en wat Eskom gedwing het om steenkool per vragmotor na die kragstasie te vervoer. Dít het ongeveer R 100 miljoen per jaar beloop.  ’n Ander ondersoek het getoon twee kleppe vir watertoevoer na ’n brandweerstelsel is voor die brand uitgebreek het afgeskakel. Daar is geen rekord dat die afskakeling van die kleppe goedgekeur was nie. In ’n ander geval het ’n kontrakteur erken dat hy met opset skade aan die Camden-kragstasie aangerig het.

Eskom is diep in die rooi en kan geensins verdere wanbestuur, korrupsie, sabotasie en diesmeer bekostig nie.

Privatisering van  kragvoorsiening is die enigste oplossing. Tog klou die ANC-regering verbete aan die leisels by Eskom en kondig hulle die een onwerkbare plan na die ander aan oor hoe die kragvoorsiener gered gaan word.

Tog meen Ramaphosa die privaatsektor moet help werk skep. Moet dit dan nou met een of selfs twee hande agter die rug vasgebind wees? Ongelukkig moet privaat ondernemings die rompslomp van swart ekonomiese bemagtiging en allerlei ander wetgewing wat teen minderhede diskrimineer, oorkom om ’n bestaan te maak. Weens diskriminerende wetgewing kan die beste kandidate dikwels nie aangestel word nie.

Dit blyk dus dat Ramaphosa hulp van die privaatsektor wil hê, mits dit sy voorkeurkandidate en kaders help. Dink maar aan die omstrede toerismefonds wat tydens die Covid-19-pandemie in die lewe geroep is wat teen ondernemings van minderheidsgroepe gediskrimineer het of die Jeug-indiensnemingsdiens (JID), wat weereens voorkeur aan kandidate van sekere groepe gee.

’n Mens moet werklik hardop wonder hoe die president hoop om hulp by die einste privaatsektor te kry? Maar natuurlik is dit  volgende jaar weer verkiesingstyd en Ramaphosa en die ANC sal enigiets vir ekstra stemme kwytraak.

Die ANC-regering het duidelik nie die antwoorde vir die land se probleme nie.

Die antwoorde lê in oplossings wat die privaatsektor en gemeenskappe na die tafel bring ten einde ’n beter toekoms vir almal in die land, en nie net die ANC-elite, te skep nie.

Soortgelyke plasings