|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die Appèlhof het vandeesweek bevind dat die sing van “Kill the Boer” nie haatspraak is nie. AfriForum het in 2020 klagte teen Julius Malema, leier van die EFF, en die EFF ingedien ná die sing van dié lied buite die landdroshof in Senekal. AfriForum sal met sy regspan vergader oor die moontlikheid van ’n Konstitusionele Hof-geding.

AfriForum het Solidariteit se Nasionale Gesondheidsversekering-krisisberaad bygewoon en is steeds gereed om betrokke te raak in ’n regstryd teen dié skadelike wet.

’n Ooreenkoms is uiteindelik tussen AfriForum, Save Ngwathe, die Metsi Pompong-waterinisiatief, die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit in Parys en die Departement van Water en Sanitasie bereik oor die voortslepende waterprobleme in Parys. Daar is ooreengekom om saam te werk om veilige drinkwater aan die inwoners te lewer. AfriForum het ingestem om van sy hangende regsgedinge met die munisipaliteit te skik, maar het aangedui dat die organisasie met regstappe sal voortgaan indien die samewerking misluk.

Tydens die verkiesing het AfriForum 134 waarnemers by stemlokale landwyd gehad en die organisasie se meer as 170 buurtwagte was op ’n hoëgereedheidsgrondslag indien openbare geweld uitgebreek het.

As deel van Nasionale Kinderbeskermingsweek het AfriForum se teenboeliespan besoek by Laerskool Krugersdorp-Noord afgelê om die leerders te leer hoe om boeliebestand te wees.

AfriForum se buurtwag in Lichtenburg het gehelp om ’n groep plunderaars in hul spore te stuit nadat die buurtwag inligting ontvang het dat dié groep beoog om winkels te teiken.

In Marble Hall het die AfriForum-buurtwag brandbestrydingstoerusting ter waarde van R50 000 aangekoop weens die ernstige gebrek aan dienslewering deur die brandweer wat vanjaar veroorsaak het dat ’n huis afgebrand het. Die 1 000 liter-brandbestrydingswaterkar sal die buurtwag in staat stel om brande in en om Marble Hall te help bestry.

AfriForum se Worcester-buurtwag het vier veiligheidskameras in dié dorp opgerig wat ingespan word om booswigte op te spoor. In Mpumalanga het die Witrivier-tak ’n nuwe radioherhaler geïnstalleer om kommunikasie en veiligheid veral tydens noodsituasies te verbeter.

Die Bethlehem-tak het voorkomend opgetree deur die lang gras in velde te sny en rommel op te tel om die verwoesting van veldbrande te verminder.

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het in Mei die terrein waar die Parkrun plaasvind opgeknap deur die gras te sny en die speelapparaat en paaltjies te verf. Verder is straatvore en eilande in die dorp skoongemaak, vullis opgetel, gras gesny, asook randstene geverf. Die tak het ook die polisiestasie netjies gemaak.

Die Zeerust-tak het vandeesmaand die terrein waarop die Burger-monument gebou is se gras gesny en altesaam ses vullissakke met blare en takke gevul. ’n Vrag tuinvullis is ná die aksie weggery.

In Mookgophong het die AfriForum-tak ’n privaat vullisverwyderingsmaatskappy gekry om 436 huishoudings se vullis te verwyder nadat die munisipaliteit reeds vir sewe dae nie vullis verwyder het nie.

AfriForum se Coligny-tak het sy volhoubare skoonmaakprojek in Voortrekkerstraat voorgesit en daar is daagliks tussen twee en vier vragte rommel en tuinvullis weggery. Die pad is ook gevee, rommel opgetel en die middelmannetjies geskoffel.

Soortgelyke plasings