|

Dit is waarom jy aan jou munisipaliteit se GOP-proses moet deelneem

Elke munisipaliteit in die land moet ’n geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) opstel wat ’n duidelike raamwerk uiteensit van hoe die betrokke gebied ontwikkel gaan word en wat die munisipale amptenare se vooruitsig vir die toekoms van die munisipaliteit en sy mense is. Dit is ast’ware die munisipaliteit se sakeplan.

Hierdie plan noodsaak samewerking tussen die plaaslike regering, verskeie rolspelers en die publiek sodat die munisipale fondse en hulpbronne reg aangewend kan word. Alhoewel ’n GOP oor vyf jaar strek word dit jaarliks hersien.

Volgens Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die GOP belangrik omdat dit as die munisipaliteit se beplanningsdokument dien en uiteensit in watter gebiede die munisipaliteit op ontwikkeling sal fokus.

Dit bepaal ook waarvoor die munisipaliteit bepaalde stukke grond gaan gebruik, soos byvoorbeeld vir lae-inkomstebehuising. “Geen ontwikkeling kan deur die munisipaliteit goedgekeur word as dit nie in die GOP gestipuleer word nie.”

Die gemeenskap het tydens die openbaredeelnameproses die geleentheid om die munisipaliteit in te lig oor hul behoeftes vir ontwikkeling, die verbetering aan infrastruktuur en enige ander munisipale kwessies.

“Versuim om aan die proses deel te neem, ontneem die gemeenskap van die reg om later bepalings en/of gapings in die GOP te identifiseer. Die munisipaliteit sal dan kan aanvoer dat die gemeenskap nie die geleentheid gebruik het om hul insette te lewer nie.”

Coetzee sê verder dat indien insette vir beter dienslewering gegee is en die dienslewering vind nie volgens die GOP plaas nie, is dit dan vir AfriForum moontlik om op regsgronde staat te maak wanneer saakwaarneming tot selfdoenprojekte lei.

Die publiek kan elke jaar van Januarie tot einde April insette lewer. Munisipaliteite se konsepbegrotings en die hersiene GOP moet elke jaar voor 31 Maart voor die munisipale raad dien. Die munisipale bestuurder sal daarna ’n kennisgewing publiseer waarin die publiek uitgenooi word om binne 21 dae kommentaar te lewer op sowel die konsepbegroting as die hersiene GOP.

“Gemeenskappe is ’n baie belangrike rolspeler in die samestelling en beïnvloeding van die GOP. Dit is daarom krities dat die publiek jaarliks aan die GOP-proses deelneem omdat dit ’n formele platform vir mense bied om hulle behoeftes aan die munisipaliteit deur te gee. Gemeenskappe se deelname aan die GOP-proses maak dit vir AfriForum moontlik om waar nodig te litigeer om dienslewering aan gemeenskappe te verseker. Die GOP-kommentaar dien verder as ’n boublok vir belangrike hofsake en is in die meeste gevalle ’n remedie wat uitgeput moet word voordat die hof genader kan word.”

Lede van die publiek word aangemoedig om by hierdie proses betrokke te raak of om by hul naaste AfriForum-tak betrokke te raak om insette op hul GOP te lewer.

Soortgelyke plasings