|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het vandeesweek moue opgerol om verskeie volhoubare aksies aan te pak om hul dorpe skoon te maak, te herstel en te beveilig. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se haatspraaksaak teen Julius Malema, leier van die EFF, het ook in die Gelykheidshof in die Wes-Kaap begin ná AfriForum in 2022 klagtes van haatspraak teen hom ingedien het.

’n Deskundige getuie wat tydens die SAMRK se saak teen Malema getuig het, het gesê Malema se destydse uitlatings was inderwaarheid haatspraak. Malema het onder meer gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.”

Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum

’n Vlootoffisier het danksy die toetrede van AfriForum se privaatvervolgingseenheid in die Vredenburg-landdroshof verskyn 20 maande ná ’n saak van strafbare manslag teen hom teruggetrek is weens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se versuim om die ondersoek te finaliseer. Daar word beweer Keamogetswe Khunofo het in sy motor teen iemand anders resies gejaag toe hy Michelle de Clerck in November 2021 in ’n straat in Saldanha doodgery het. De Clerck se ma het die privaatvervolgingseenheid in Junie 2022 vir hulp gevra ná die saak keer op keer uitgestel is.

In Lydenburg het die AfriForum-tak 26 straatnaamborde opgerig. Voortslepende verval van die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit het die tak genoop om op hierdie praktiese wyse in te gryp. Dié dorp is ’n belangrike sakesentrum in die omgewing en ook ’n gewilde bestemming vir toeriste. Dis juis hoekom akkurate rigtingwysers nodig is.

Nog ’n verwoestende brand, soos dié van verlede jaar, is in Phalaborwa verhoed danksy die vinnige optrede van die AfriForum-tak en ander gemeenskapstrukture in die dorp. ’n Taklid het ’n oproep ontvang oor die brand wat gedreig het om handuit te ruk, maar met vinnige optrede gou geblus kon word.

AfriForum se Paarl-tak het 19 burgers opgelei om hulself te verdedig indien dit genoodsaak word. ’n Selfverdedigingswerksessie is saam met Rukata Combat and Self Defence Systems aangebied waar deelnemers onder meer geleer is om aanvalle met wapens soos messe en pangas af te weer.

Een van AfriForum se Benoni-tak se fokusareas is veiligheid. Die tak het twee motorfietse bekom waarmee patrollies gery sal word om veral veiligheid op kleinhoewes in die omgewing op te skerp.

AfriForum se Nelspruit-tak het ’n grassnyer bekom om parke en openbare areas skoon te maak. “Met hierdie nuwe aanwins beoog ons om meer doeltreffend en vinniger skoonmaakprojekte in die dorp te behartig,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Die Emmanuel- en ACVV Amandelhof-tehuise op Williston, wat ’n permanente tuiste bied aan nagenoeg 40 voorvatters van ’n vorige generasie, het onlangs ’n welkome skenking van die plaaslike AfriForum-tak ontvang toe vragte groente en klere hier afgelaai is. Beet, aartappels, pampoene, wortels, kool en appels is onder meer aan die tehuise geskenk wat dit nie breed het nie.

AfriForum het ’n ruim skenking van groente, vrugte en klere aan die Emmanuel- en ACVV Amandelhof-tehuise op Williston gemaak.

In Parys het AfriForum 30 sakke teer aan die gemeenskap gegee om slaggate te herstel. Die tak was bereidwillig om die sakke aan die gemeenskap te skenk, maar inwoners het nogtans besluit om ’n  donasie te maak om ’n  gedeelte van die kostes te dek.

Soortgelyke plasings