|

Verval op De Aar, Hanover en Britstown ruk handuit; AfriForum oorweeg stappe teen munisipaliteit

Slaggate, vloeiende rou riool en onooglike vullisterreine.

Dít is maar net enkele van die menige probleme wat inwoners van De Aar, Hanover en Britstown in die gesig staar.

AfriForum stel nou amptelik ondersoek in na dié verval nadat talle klagtes rakende die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit se swak dienslewering ontvang is. Al drie hierdie dorpe ressorteer onder hierdie munisipaliteit. AfriForum het in Februarie die probleemareas op De Aar, Hanover en Britstown besoek en konsulteer ook met sy regspan om moontlike verdere stappe teen die munisipaliteit te oorweeg.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, is die probleme op dié Noord-Kaapse dorpe omvangryk. In De Aar en Hanover is die rioolwerke al meer as twee jaar buite werking en die riool vloei vrylik in die veld in. Die De Aar-wateraar lê boonop baie vlak onder die grond en dus word dié ondergrondse waterbron direk besoedel. Van die munisipaliteit se 79 boorgate werk ook slegs 15. Voorts is die werkende boorgatpompe – wat die water direk by die reservoirs inpomp en dan na die gemeenskappe versprei – onvoldoende en belemmer dit watervoorsiening aan die De Aar-gemeenskap. Intussen is die terrein van die rioolwerke die teiken van vandale omdat daar nie meer werkers op die perseel is om dit in stand te hou nie.

Dit blyk boonop dat riool wat onvoldoende behandel is, in die Brakrivier vloei. AfriForum het op 21 Februarie watermonsters geneem van die riool wat in hierdie rivier invloei en volgens die toetsresultate is hoë vlakke van E. Coli en koliforme bakterieë teenwoordig in die water.

Benewens die kommerwekkende waterbesoedeling, is die swak instandhouding van paaie en vullisterreine in De Aar, Hanover en Britstown ook ’n seer oog vir die gemeenskap.

“Die Emthanjeni Plaaslike Munisipaliteit kom nie hul plig teenoor hierdie gemeenskappe na nie. Dienslewering hier is swak en uiteindelik is dit die inwoners wat onder die munisipaliteit se traak-my-nie-agtige houding lei,” sê Strauss.

Intussen duur konsultasies met AfriForum se regspan voort om verdere stappe teen die munisipaliteit te oorweeg.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-tak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings