|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum is gereed om die stryd teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die instelling van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) enduit te voer. Alhoewel die verkiesing net om die draai is, rus dié burgerregteorganisasie se takke nie op hul louere nie en pak steeds staatsverval met volhoubare aksies.

Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek die nuwe NGV-wetsontwerp onderteken. Hierdie wet word uit verskeie oorde as onbekostigbaar, onrealisties en ’n verkiesingsfoefie bestempel. AfriForum is oortuig dat die wet ongrondwetlik is en die organisasie maak nou gereed om die regering te dagvaar vir die ondenkbare skade wat die NGV sal aanrig. AfriForum meen onder meer daar is nie ’n redelike verwagting dat die wet daarin sal slaag om bevordering van toegang tot gesondheidsorg te bied nie en dat dit inbreuk sal maak op gesondheidswerkers se reg tot die vrye beoefening van hul beroep. 

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

Die Nasionale Vergadering (NV) het ook hierdie week die Bela-wetsontwerp aanvaar en die volgende stap is vir die president om dit te onderteken. Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, beklemtoon dat AfriForum hou by die voorneme om die Bela-wetsontwerp nasionaal en, indien nodig, ook internasionaal met regsaksie teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte-onderrig inhou. Indien hierdie wet ingestel word, sal openbare skole se beheerliggame onder meer die reg verloor om oor hul eie skool se taal- en toelatingsbeleide te besluit.

AfriForum het vandeesweek ’n konferensie gehou waar kenners die vernietigende gevolge van die ANC-regering se talle rassebeleide bespreek het. Die duidelike boodskap was dat rassewette afgeskaf moet word. Indien dit nie gebeur nie, sal die land se ekonomie aanhou om te steier, terwyl die elite verder verryk word en die kwesbaarste lede van die gemeenskap nog verder verarm.

Ernst van Zyl, AfriForum se hoof van Openbare Betrekkinge

AfriForum het ’n skrywe aan Gregory Nthatisi, burgemeester van Bloemfontein, gestuur en kapsie gemaak teen die salarisverhoging van R700 000 per jaar wat toegeken is aan die munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, Sello More. Dit bring die munisipale bestuurder se totale vergoedingspakket op net meer as R2,45 miljoen per jaar te staan. AfriForum is sterk teen hierdie besluit gekant aangesien die metro onder administrasie geplaas is.

In Thabazimbi het die AfriForum-tak die proses begin om die waterreservoirs te herstel. In die eerste fase van die projek is die toegangspad skoongemaak sodat die reservoirs bereik kan word. In die volgende fase sal die vrot water uit die reservoirs gepomp word waarna beoog word om binne die volgende ses maande die reservoirs weer in werkende toestand te kry om ’n addisionele 14 120 megaliter water by die netwerk te voeg.

Verskeie belanghebbendes, waaronder gemeenskapsleiers van uiteenlopende organisasies, insluitende AfriForum en Save Ngwathe, en gemeenskappe in Parys, Tumahole en Schonkenville gaan kragte saamsnoer om die waterkrisis wat in dié gemeenskappe in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit woed, te takel. Daar sal nou deur middel van die Kanana Metsi Pompong Waterinisiatief in die komende weke verskeie aksies van stapel gestuur word om ingryping by die sukkelende wateraanlegte wat water aan Parys en die aanliggende nedersettings moet lewer, reg te ruk.

AfriForum se tak in Viljoenskroon het dié dorp se ingang skoongemaak as voorbereiding vir die Nampo-landbouskou in Bothaville, en in Potchefstroom het die AfriForum-tak ’n gedeelte van die groenstrook langs die Mooirivier wat deur die dorp loop, skoongemaak.

AfriForum se Pongola-, Amanzimtoti-, Laersuidkus- en Witbank-takke het voorstelle vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir hul onderskeie plaaslike munisipaliteite ingedien. Daar is onder meer gevra dat daar aandag geskenk moet word aan rioolstortings en slaggate.

Soortgelyke plasings