|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se onderskeie takke en buurtwagte het vandeesweek skouer aan die wiel gesit om munisipale verval teen te werk en hul gemeenskappe te beveilig.

Die Brits-buurtwag het daarin geslaag om ’n plaasaanval af te weer nadat hulle vinnig op ’n inwoner se noodroep gereageer het. Snuffelhonde is gebruik om die verdagtes op te spoor. Die agt verdagtes het op dieselfde aand ook ’n nagwag aangeval en die buurtwag het hulle daarna op heterdaad betrap terwyl hulle by ’n derde eiendom ingebreek het. Hulle het egter in die mielielande in gevlug.

Die Witrivier-buurtwag het vyf nuwe tweerigtingradio’s ontvang wat kommunikasie tussen buurtwaglede sal verbeter, veral wanneer buurtwaglede swak sein ervaar of in ontoeganklike areas patrolleer.

In Kimberley het die buurtwag in samewerking met die brandweer, boere van die omgewing en die GPF gehelp om ’n brand buite Kimberley te blus. AfriForum en Saai het ook hulp verleen aan boere ná verwoestende veldbrande in Polokwane deur 360 bale voer te skenk. 30 000 hektaar het afgebrand en sowat 4 000 stuks vee het tydens die brande gevrek.

In Welkom is Fouche Loodgieters aangestel om mangate en rioolpype in ’n straat te ontblok en skoon te maak nadat inwoners AfriForum om hulp genader het. AfriForum voer al sedert 2019 ’n stryd teen die Mathjabeng Plaaslike Munisipaliteit oor die talle rioolprobleme in dié Vrystaatse dorp.

AfriForum se Kraaifontein-tak het vroue bemagtig om hulself te verdedig deur hulle na ’n selfverdedigingsessie by die C.O.B.R.A Self-Defence Academy te nooi.

In Nelspruit is verskeie bababenodigdhede aan Liznico House of Hope, ’n tehuis vir minderbevoorregte babas, geskenk. Dié skenking vorm deel van die tak se projek om doeke en basiese benodigdhede aan instansies te verskaf wat nie die nodige fondse het om self aankope te doen nie.

Die Kathu-tak het ’n mikrogolfoond en kookwaterkan aan die Gamagara-nooddienste oorhandig aangesien hulle al geruime tyd nie die nodige fondse het nie en die munisipaliteit nie meer hulp aanbied nie.

Vrywilligers in Potchefstroom het behoorlik gewerskaf tydens dié tak se #VegEnBou-week. Die palissades by ’n gedenkwaardigheid is oorgeverf, slaggate opgevul en vyf witstinkhoutbome is in die Alexanderpark-begraafplaas geplant.

AfriForum het verder twee voorleggings by die Verenigde Nasies (VN) ingedien. Die eerste fokus op die probleme wat regeringsmislukking en die onderdrukking van minderhede in Suid-Afrika veroorsaak en die ander op die belangrikheid van nieregeringsorganisasies en die burgerlike samelewing om gemeenskappe op te bou en as ’n waghond teen regeringsmagsmisbruike op te tree.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het sy teleurstelling uitgespreek nadat verskeie klagtes van verkragting teen twee mans en ’n ma van ’n jong dogtertjie in die Brits Landdroshof teruggetrek is. Die eenheid het in ’n ander saak gevra dat die polisie moet verduidelik waarom twee van die land se mees senior weermaggeneraals nie aangekla en gearresteer is nie ondanks ’n uitdruklike opdrag van ’n aanklaer.

Alhoewel die Johannesburg Metro dit oorweeg om skole tegemoet te kom rakende die buitensporige eiendomsbelasting vir skole en universiteite in die metro gaan AfriForum steeds voort met die litigasieproses teen die metro. ’n Tussentydse bevel is ook bekom om die metro te verhoed om skuldinvordering op die verhoogde tarief in te stel.

Die ontslape akademikus en skrywer J.C. Steyn se laaste boek So is onse mense is in Bloemfontein bekendgestel en die geleentheid was ’n viering van sy lewe en werk. Dit is die derde boek uit Steyn se pen wat deur AfriForum Uitgewers (en die uitgewer se voorganger Kraal Uitgewers) uitgegee is.

Soortgelyke plasings