|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Terwyl die land asem ophou om te sien of die nuwe kabinet die mas gaan opkom, het AfriForum se takke nie op hul louere gerus nie en verskeie volhoubare aksies aangepak. Sunfield Home Fortuna vir gestremdes het ook danksy AfriForum se regspan vandeesweek die eerste uitbetaling van die ooreengekome verhoogde subsidiebedrag ontvang ná die subsidie vir ’n dekade nie verhoog was nie.

Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiek en verstandelik gestremde persone buite Balfour in Mpumalanga, het vandeesweek vir die eerste keer die verhoogde subsidiebedrag ontvang wat AfriForum in ’n skikkingsooreenkoms met Mpumalanga se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling onderhandel het. ’n Subsidiebedrag van R3 600 per maand sal voorts betaal word, eerder as die maandelikse R1 984 wat vir langer as ’n dekade onveranderd gebly het. Die departement sal boonop jaarliks die subsidiebedrag met 10% moet verhoog.

AfriForum het op 28 Junie ’n reuseoorwinning in die hof behaal nadat daar in sy guns beslis is in ’n saak oor die onregmatige goedkeuring van munisipale kragtariefverhogings vir die 2024/2025-boekjaar. Die hof het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se besluit, om aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, as onwettig en ongeldig verklaar. NERSA het intussen aangedui dat hy teen die beslissing gaan appelleer, maar AfriForum dring nou daarop aan dat die reguleerder in die tussentyd moet onderneem om, soos die hofuitspraak bepaal, nie kragtariefverhogings toe te staan aan munisipaliteite wat nie die nodige kostestudies gedoen het nie.

In George het die AfriForum-tak verskeie projekte aangepak om veiligheid te bevorder. Daar is onder meer aksies saam met die plaaslike polisie en GPF aangepak, terwyl ’n leersame werksessie, aangebied deur Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, buurtwaglede se kennis verder geslyp het.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder

Veiligheid is ook in Pretoria opgeskerp met die Apiesriviertak wat nog ’n LPR-kamera opgerig het. Hierdie kamera word gebruik om voertuie se nommerplate na te gaan en speel onder meer ’n belangrike rol in die opsporing van gesteelde of verdagte voertuie. Dit is dié tak se tweede LPR-kamera en die tak hoop om binnekort, deur middel van ’n samewerkingsooreenkoms, reaksievoertuie te bekom om die gemeenskap se veiligheid na ’n selfs hoër vlak te neem.

Die AfriForum-tak in Midvaal het op 29 Junie ’n projek by die Riversdal-begraafplaas van stapel gestuur wat daarop gemik was om die historiese integriteit van hierdie belangrike terrein te behou. Vandale het grafstene, waarvan baie uit die middel van die negentiende eeu dateer en noukeurig met die hand gekerf is, omgekeer en beskadig. Tien grafstene is herstel.

AfriForum se Lichtenburg-buurtwag het op ’n verdagte toegeslaan wat daarvan verdink word dat hy honde in die dorp vergiftig het. Dit volg ná ’n buurtwaglid die verdagte op straat met ’n winkeltrollie opgemerk het. Hy is deursoek en ’n hondebakkie en -pille is onder meer by hom gevind. Die Lichtenburg-buurtwag het ook gehelp om ’n brand te blus.

In Lichtenburg het die AfriForum-buurtwag gehelp om ’n brand te blus.

In Rustenburg het die plaaslike AfriForum-tak die afgelope maand nagenoeg 100 liter verf aangewend om padmerkers oor te verf. Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groot-Marico, sê dit is skrikwekkend hoeveel padmerkers in Rustenburg oorgeverf moet word en benadruk dat die instandhouding daarvan noodsaaklik is om verkeersongelukke te verminder.

In Hertzogville het die AfriForum-tak 2,5 ton teer ingespan om slaggate te herstel. Meer as 100 slaggate is reeds herstel, maar die tak is nog lank nie klaar nie, want daar word reeds beplan om nog 1,8 ton teer aan te wend vir verdere herstelwerk.

Soortgelyke plasings