|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek aangekondig dat sy regspan gereed is om regstappe te doen om ’n stokkie voor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) te steek. Dié burgerregteorganisasie se privaat brandweerdiens in Bloemfontein het ook sy eerste 100 dae se dienslewering gevier.

By ’n gesamentlike mediakonferensie deur AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hierdie organisasies almal hul teenkanting vir die Bela-wet in sy huidige vorm te kenne gegee. AfriForum beskou die Bela-wet as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole moontlik sal maak om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring.

Pres. Cyril Ramaphosa het egter tydens die ondertekening van dié wet gesê artikels vier en vyf sal oor die volgende drie maande verder bespreek word met die oog op ’n oplossing  wat alle partye tevrede sal stel. Hierdie artikels bepaal dat die hoof van die provinsiale Onderwysdepartement die finale sê sal hê oor skole se toelatings- en taalbeleide. ’n Staatsamptenaar sal dus ’n beheerliggaam kan veto en onder meer die demografie van die groter onderwysdistrik in die toepassing van dié betrokke artikels in ag neem.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Brande het onlangs verwoesting in Hartbeespoort gesaai. AfriForum se tak in dié dorp het gehelp om die brand saam met die plaaslike brandweer te blus ná dit in ’n stadium gelyk het asof die vlamme groot skade aan plaaslike inwoners se eiendom kan veroorsaak.

AfriForum se tak in Hartbeespoort het gehelp om ’n brand te blus voor dit grootskaalse skade kon aanrig.

AfriForum se privaat brandweerdiens in Bloemfontein het hierdie week 100 dae se dienslewering gevier. Hierdie diens is op 4 Junie op die been gebring en het tot aan die einde van Augustus reeds by 30 gevalle bystand gebied. Wat die diens indrukwekkend maak is dat die span gemiddeld net meer as ses minute neem vanaf ’n noodoproep ontvang is om op die toneel van die brand te wees.

Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit skuld Rand Water tans meer as R400 miljoen met die gevolg dat laasgenoemde dreig om die waterdruk na hierdie munisipaliteit met 20% te verlaag. AfriForum het dié munisipaliteit gevra om ’n behoorlike betalingsooreenkoms met Rand Water te onderteken om te verhoed dat drukverlaging wel plaasvind.

AfriForum het ’n petisie van stapel gestuur om die skorsing te eis van raadslede van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit met agterstallige munisipale rekeninge. Daar is onder meer nege raadslede wat gesamentlik meer as R360 000 skuld.

Verskeie AfriForum-takke het die afgelope week ’n klomp slaggate herstel. In Thabazimbi het die tak 210 slaggate herstel, in Bloemhof is 200 en in Viljoenskroon is 30 herstel.

AfriForum het die afgelope week in onder meer Bloemhof, Thabazimbi en Viljoenskroon slaggate herstel.

AfriForum se Hopefield-buurtwag het skoonmaakmiddels aan die plaaslike polisiekantoor geskenk. Dié buurtwag, wat baie betrokke is in die gemeenskap, het tydens ’n gemeenskapspolisiëringsvergadering verneem dat die Hopefield-polisiekantoor ’n tekort aan skoonmaakmiddels het.

’n Vullisfiasko is verlede week op Mookgophong afgeweer toe AfriForum se Naboomspruit-tak ingegryp het om huishoudelike vullis in Golfpark en die woongebied van 5de tot 7de Straat met die hulp van ’n privaatvullisverwyderingsmaatskappy te verwyder. Dit volg nadat munisipale vullisverwydering in dié deel van die dorp in daardie stadium reeds vier dae lank opgeskort is en vullis opgehoop het.

AfriForum se buurtwag in Middelburg het patrollies newens die N4 verskerp ná al hoe meer gevalle van ysterpenlokvalle aangemeld is. Agt buurtwaglede het in vier motors vir vier ure patrollies gery en alhoewel geen motoriste die slagoffers van ysterpenlokvalle was nie is ’n hele paar persone met ander probleme langs die pad gehelp.

In Upington het die AfriForum-tak in samewerking met die Gemsbok, ’n gemeenskapskoerant in die Noord-Kaap, 40 kareebome aan verskeie informele behuisingsgebiede se gemeenskapstuine geskenk. AfriForum het sowat drie jaar gelede hierdie tuine begin en dis geleë waar daar destyds hope rommel was. Dié tuine is nou ’n baken van hoop vir die inwoners.

Soortgelyke plasings