|

Kyk: Weldoeners gesoek om verwoeste Boerehospitaal te herstel

’n Brand het in 2019 die geskiedkundige Boerehospitaal op die plaas Leliesdal net buite Coligny verwoes.

Dié plaas behoort aan dr. Nelius Rall en dit is al sedert die 1800’s in sy familie se besit. Hulle het die gebou, wat in die Anglo-Boereoorlog as hospitaal gebruik was, in ’n woonhuis omskep.

Dr. Nelius Rall

“Die Eskom-krag op die plaas was die betrokke oggend vir ’n paar uur af,” onthou Rall, ’n afgetrede veearts wat toe nog sy spreekkamers op die plaas gehad het.

“Ek was later die dag in my spreekkamers toe ’n werker my kom roep het en gesê het daar kom rook uit die huis.”

Rall het gaan ondersoek instel en gevind ’n driepunt-muurprop het aan die brand geraak toe Eskom die krag weer aangeskakel het. “Teen dié tyd was die duvet op die bed reeds aan die brand en die brand het sommer gou heeltemal buite beheer geraak.

“Ons het probeer om die brand te blus, maar nie eens die brandweer kon die huis red nie. Binne omtrent ’n halfuur was die inhoud van die huis verwoes. Die dak het ook ingestort en die vuur was so warm dat sommige vensters gesmelt het.”

Rall het intussen afgetree en na die dorp verhuis. Die plaas is met die uitsondering van ’n paar werkers wat soms daar werk, nou verlate. Dit wat nie in die brand in die slag gebly het nie, is intussen ook weggedra.

Daar was groot skade met verskeie items uit die tyd van die oorlog en selfs vroeër wat verwoes is. Duur Turkse en Chinese matte, skilderye, antieke meubels en ’n besonderse muurhorlosie, wat in die 1860’s in Nederland vervaardig is, het in die slag gebly.

Was dit net ’n gewone gebou sou Rall vrede daarmee kon maak dat dit steeds nie herstel is nie, maar hy meen dié stukkie Afrikaner-erfenis moet vir die nageslag bewaar word.

Op 21 Januarie 1902 het tussen 200 tot 250 Britte onder bevel van lt.kol. K. Chesney na Leliesdal opgeruk om die hospitaal aan te val. Maar hier het die Britte hulle teen sowat 60 Boere en offisiere onder leiding van genl. Johan Celliers vasgeloop. In kort het die vasberade Boere die Britte tot net kort van Lichtenburg verdryf.

“Ek het al verskeie instansies om hulp genader om die gebou so na as moontlik aan die oorspronklike toestand te herstel, maar niemand het tot dusver na vore gekom nie. Ek dink dis ’n stukkie Afrikaner-geskiedenis wat vir die nageslagte bewaar moet word en hoop dat die saak ook op iemand se hart sal druk.”

Belangstellendes wat wil help kontak Rall by 078 113 5929.

Soortgelyke plasings