|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum het ’n nuwe projek geloods om Suid-Afrika se grense te help beveilig. Die Grenswag Inisiatief is begin ná die swak grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe in die dokumentêre film Open Borders ontbloot is. AfriForum se buurtwaglede help in dié gebied om die gemeenskap te beveilig.

Die eerste aksie van die inisiatief is die skenking van twee snuffelhonde aan AfriForum se Musina-buurtwag. Albei honde (Duke en Hailey) is opgelei om spoor te sny en Duke is spesifiek opgelei om vuurwapens en dwelms uit te snuffel.

Hailey gaan die Musina-buurtwag help om die grens met Zimbabwe te beveilig.
Hailey is gereed.

AfriForum het ook vandeesweek amptelik standpunt ingeneem teen die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument en -museum. AfriForum meen die monument se huidige naam is akkuraat en daar is geen element van polarisasie daarin nie. Voorts het Afrikaans ’n unieke geskiedenis, met wortels in drie kontinente, wat van meet af moedertaalsprekers van alle rasse ingesluit het en een van net vier tale is wat tydens die 20 ste eeu hoëfunksiestatus bereik het en dus gevier moet word.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het by Laerskool Dr. Havenga in Woortpoortje besoek afgelê. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Dus om boeliebestand te wees.

Die Wes-Moot-tak in Pretoria het gehelp om ’n brand op die R80-snelweg te blus. Rookbolle het in die lug gehang wat sig belemmer het en lewens van motoriste in gevaar gestel het. Die tak se brandspan het op inligting van die voorval gereageer en met n brandkar gaan help. Die tak het ook sy mobiele kameraprojek bekendgestel. Hierdie eenheid sal hoofsaaklik by misdaadbrandpunte in die omgewing aangewend word.

Die Wes-Moot-tak se mobiele kameraprojek sal help om misdaad te bekamp.

Die AfriForum-tak in Welkom het Fouche Loodgieters aangestel om ’n reuse-rioolverstopping te ontblok en die rioolpype skoon te maak. Dít volg nadat die kontrakteurs wat die munisipalitiet op tenders aangestel het glo blokkasies in die pyplyn gelos het. Dit het tot gevolg gehad dat rou riool in ondernemingspersele in die gebied oorspoel. Strafregtelike klagtes oor die rioolprobleem is verlede maand teen die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit en die munisipale bestuurder by die SAPD ingedien.

Die Welkom-tak het gehelp om ’n reuse-rioolverstopping te ontblok.

Soortgelyke plasings