|

AfriForum loods Grenswag Inisiatief; snuffelhonde na Musina ontplooi

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n nuwe projek geloods om Suid-Afrika se grense te help beveilig. Die Grenswag Inisiatief is gestig ná die enorme ondersteuning wat die organisasie met die bekendstelling van die dokumentêre film Open Borders ontvang het. Die dokumentêr het uitgebeeld hoe swak die grensbeheer tussen Suid-Afrika en Zimbabwe toegepas word en hoe AfriForum se buurtwaglede in dié grensgebied help om die gemeenskap te beveilig.

Die Grenswag Inisiatief se eerste aksie was om twee snuffelhonde aan AfriForum se Musina-buurtwag te skenk. Albei die honde (Duke en Hailey) is opgelei om spoor te sny en Duke is spesifiek opgelei om vuurwapens en dwelms uit te snuffel.

“Duke en Hailey gaan waardevolle magsvermenigvuldigers wees in die Musina-buurtwag se optrede om smokkelaars en hul smokkelware vas te trek. Die smokkelaars kom gereeld deur dig bebosde gebiede oor die grens en die honde sal help om vinnig op hul spoor te kom. Duke sal ook gebruik word om wetstoepassers by te staan by padblokkades omdat hy spesifiek opgelei is om vuurwapens en dwelms uit te snuffel,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Die Grenswag Inisiatief sal verder daarop fokus om AfriForum se veiligheidstrukture in grensgebiede reg oor die land te versterk en te ondersteun. Verskeie individue en organisasies het reeds aangedui dat hulle graag toerusting sal wil borg vir die buurt- en plaaswagte in grensgebiede.

“AfriForum se Musina-buurtwag het tussen Junie en September verlede jaar, gehelp om beslag te lê op gesmokkelde bates met ’n waarde van meer as R12 miljoen. Dit het ’n wesenlike impak op die onwettige bedrywighede en, volgens inligting wat ons ontvang het, het van die smokkelaars geheel en al tou opgegooi as gevolg van ons lede se aksies. Dít is ’n enorme sukses,” sê Broodryk.

AfriForum het 155 veiligheidstrukture landswyd en meer as 10 000 vrywilligers wat ’n reuserol speel om hul gemeenskappe te beveilig.

Soortgelyke plasings