|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Die gedwonge dra van maskers en ’n klomp ander Covid-19-gesondheidsregulasies is iets van die verlede danksy volgehoue druk van AfriForum en ander organisasies.

Nadat die ramptoestand beëindig is, het die regering die Covid-19-maatreëls met ’n verdere 30 dae verleng. Toe hierdie 30 dae egter verstryk het, het die regering ter elfder uur nuwe tydelike regulasies gepubliseer. AfriForum was die eerste organisasie wat sy regsaansoek teen die regulasies ingedien het.

“Ons is daarvan oortuig dat die regering nie hierdie irrasionele en onwettige regulasies sou herroep het as dit nie vir AfriForum se dreigende regstappe was nie,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

AfriForum se buurtwag in Orkney het gehelp om die Rooms-Katolieke Kerk op die dorp op te knap. Die buurtwag het onder meer die teëls vir die altaar geskenk en matte en vensters gewas. Die aksie is aangepak met die oog op die gemeente se 50ste bestaansjaarvieringe in Augustus.

In Vredendal het die AfriForum-tak flitse aan die Lutzville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Community in Blue (CIB) geskenk om hulle te help om die omgewing veiliger te hou. Dit het aan die lig gekom dat die GPF en die CIB nie oor flitse beskik nie en AfriForum het op ’n versoek van die twee organisasie vir flitse gereageer.

AfriForum het flitse aan die GPF in Vredendal geskenk.

AfriForum se tak in Zastron het gehelp om planne te maak toe watertoevoer na die dorp onderbreek is. Water is na ouetehuise aangery en aan die gemeenskap uitgedeel. AfriForum het intussen ook klagtes by die Menseregtekommissie ingedien sodat die waterkrisis ondersoek kan word en die Mohokare Plaaslike Munisipaliteit uiteindelik verantwoordelik gehou word.

Water is in Zastron na ouetehuise aangery ná watertoevoer na die dorp onderbreek is.

AfriForum en Saai het met Prins Bambindlovu Zulu hande gevat om ’n landbouontwikkelingsprojek by KwaKhangelamankengane, suid van Pongola, te verbeter. Prins Bambindlovu en sy span lewer reeds sedert 2017 landbouprodukte soos aartappels en kool. Die hoop is om die besproeingsmetodes wat gebruik word te verbeter.

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum

Soortgelyke plasings