|

AfriForum dien kommentaar in op aansoek vir beoogde eksplorasie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 21 Augustus 2020 kommentaar ingedien op die beoogde eksplorasie-aansoek in ’n streek van die kusgebied tussen St. Francisbaai en Mosselbaai.

SLR Consulting doen namens Total SA aansoek om 11 gate aan die kusgebied as eksplorasieputte te boor. Dié gebied is onontbeerlik vir die mariene biodiversiteit aan die Suid-Afrikaanse kuslyn. Boonop is daar ’n beskermde mariene gebied net suid van die beoogde prospekteergebied.

AfriForum het verskeie vrae uiteengesit in sy kommentaar omdat die openbaredeelnameproses in webinaar-formaat aangebied is en nie juis toeganklik was vir alle lede van die publiek nie. Tydens die vergadering het beurtkrag plaasgevind en dus meen AfriForum dat die proses uitgestel moet word totdat dit meer toeganklik is vir alle lede van die gemeenskap en totdat die COVID-19-pandemie verby is.

“Die vergadering was nie baie toeganklik nie omdat ek nie direk kon stellings maak of vrae vra nie. Verskeie lede van die gemeenskap wat betrokke wou raak kon ook uiteraard nie, omdat nie almal toegang tot die internet het nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

“AfriForum is nie teen enige bestaande of beoogde mynaktiwiteite gekant nie, maar as beskermer van die omgewing is dit belangrik om aan alle prosesse en prosedures deel te neem om te verseker dat gemeenskappe en die land beskerm word,” sluit De Klerk af.

Raak vandag nog betrokke en voeg jou stem by dié kwessie. Besoek https://afriforum.co.za/mynaktiwiteite-aan-die-oos-kaapse-kusgebied/ of SMS jou naam na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings