|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Hoewel AfriForum vandeesweek sy werk voortgesit het met skoonmaakaksies in dorpe, is daar ook aktief opgetree om staatsvergrype teen te staan.

AfriForum het Eskom genader wat die inwoners van Pretoria se krag wil afsny weens die Tshwane-metro se agterstallige rekening van meer as R1,6 miljard. AfriForum is van mening dat ’n geskil tussen staatsorgane nie gemeenskappe moet benadeel nie en alles moontlik gaan gedoen word om te keer dat belastingbetalers in die donker gelaat word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur om vas te stel waarom daar soveel vertragings in die On Point Engineering-korrupsiesaak teen Julius Malema, EFF-leier, en vier ander beskuldigdes is. Dit sloer nou al agt jaar. Die eenheid meen die onwilligheid om vervolging teen Malema in te stel, is irrasioneel.

Steeds by Malema is AfriForum uiters teleurgesteld in die uitspraak in die Gelykheidshof dat die sing van die lied Kill the boer nie haatspraak is nie. Die organisasie gaan teen die uitspraak appelleer. Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat hierdie uitspraak ’n baie gevaarlike presedent skep. Die steurende boodskap wat met hierdie uitspraak gestuur word, is dat die aanmoediging van die gruwelike moord van ’n sekere groep gebaseer op hul identiteit aanvaarbaar is en geen gevolge dra nie.

AfriForum het ook juis vandeesweek ’n konferensie oor Die boer en die reg aangebied om landbouers van regsadvies te voorsien oor verskeie kwessies soos wanneer dit geregverdig is om uit noodweer aanvallers te skiet, hoe jy moet optree wanneer daar ’n grondgryp is en die noodsaaklikheid van gebeurlikheidsplanne en die inoefening daarvan om te oorleef en gesinne veilig te hou.

AfriForum se Wes-Kaap-kantoor het ’n gholfdag aangebied ten bate van die Herbert Street Special School vir leerders met outismespektrumafwyking. Die organisasie het ’n totale bedrag van R150 000 ingesamel vir die skool se beroepsonderwysprogram.

Die burgerregtewaghond het ook by ’n vergryp teen gestremdes ingegryp en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling op terme geplaas. Die Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiese- en verstandelik gestremde persone in Mpumalanga word ook met regsadvies bygestaan aangesien die staat vir die afgelope 14 jaar weier om die subsidiebedrag vir die tehuis te verhoog. Die departement dreig om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas.

AfriForum-buurtwaglede in Bloemfontein het opleiding in brandbestryding ontvang. Die opleiding is deur Forum Sekuriteit aangebied. Die doel van die opleiding is om buurtwaglede met teoretiese en praktiese kennis toe te rus om korrek en doeltreffend in noodsituasies op te tree.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het ook besoek afgelê by die Laerskool Oranje-Noord, Op Die Voorpos Primary School en Hoërskool Duineveld in Upington. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. Die span het reeds 160 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery en die impak daarvan, toegespreek.

Die AfriForum-tak in Bethal het ook verskeie projekte as deel van die #OnsDorp-projek van stapel gestuur. Slaggate is gevul, die groentetuin het meer as 40 kg spinasie gelewer wat aan ’n tehuis in Morgenzon geskenk is en twee bakkievragte sitrusvrugte is aan verskeie skole en sopkombuise voorsien.

Soortgelyke plasings