|

Mookgophong se strate nie meer naamloos danksy dié sementblokke

Mookgophong (Naboomspruit) se strate gaan nie wéér naamloos wees nie danksy AfriForum se noue samewerking met die gemeenskap van dié dorp. Die Naboomspruit-tak en lede van die gemeenskap gaan die hele jaar deur altesaam 270 losstaande sementblokke oprig en die dorp se straatname daarop verf. Danksy die samewerkingsooreenkoms met die gemeenskap is 30 sementblokke reeds opgerig en die betrokke straatname daarop geverf.

Die tak is sedert 2021 by die Ruk-Naboom-Reg-gemeenskapsprojek betrokke, en het in Januarie vanjaar begin om aandag aan die straatnaamborde, oftewel die tekort daaraan, te gee. Willem van Deventer, ’n inwoner op die dorp, het ’n unieke gietvorm ontwerp waarin sement gegiet word. André Joubert, nog ’n toegewyde inwoner, het tot dusver al die nodige sement vir die projek geskenk. Nadat die sement gegiet word, word dit in die son gedroog en geverf voordat dit op die straathoeke aangebring word. Dié losstaande sementblokke kan herhaaldelik oorgeverf word sou vandale toeslaan.

“Die toegewyde pogings deur die gemeenskap en die AfriForum-tak om Mookgophong te verbeter is niks nuuts nie. Hierdie tak prioritiseer diensbaarheid en probeer by elke geleentheid die gemeenskap by te staan en te betrek,” sê André van der Schyff, tesourier van AfriForum se Naboomspruit-tak.   

Sedert die AfriForum-tak by die Ruk-Naboom-Reg-gemeenskapsprojek betrokke geraak het, is meer as 1 000 sakke vol vullis per hand opgetel en weggery. In 2023 het die Naboomspruit-tak meeste van die dorp se stukkende stopstrate saam met die gemeenskap vervang en padmerke geverf. Meer as 200 liter verf is verlede jaar gebruik om dié projek te voltooi.

Die AfriForum-tak in Naboomspruit beplan om in die komende paar maande verskeie projekte aan te pak, soos om slaggate te vul en rommel op te tel en te verwyder. Die tak benodig egter die gemeenskap se inkoop om van hierdie projekte ’n sukses te maak. Besoek “AfriForum Naboomspruit” op Facebook vir meer inligting oor die toekomstige projekte of stuur ’n epos aan tesourier.naboomspruit@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings