AfriForum veroordeel John Jeffery, adjunkminister van justisie, se walglike opmerkings oor Afrikaners

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel John Jeffery, adjunkminister van justisie, se onlangse onaanvaarbare opmerkings en haatlike stereotipering van Afrikaners ten sterkste. Hierdie opmerkings is deur Jeffery gemaak tydens die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste se vergadering vandeesweek oor die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak. In reaksie op Jaco Mulder, VF Plus-LP, se kritiek op hierdie wetsontwerp, het Jeffery opgemerk: “Mr Mulder is, I’m sure, concerned about his constituency, which I think is more white Afrikaners, because very often these racist incidents, or many of them are, propagated by [that] particular group, but equally, [the Bill] can protect white Afrikaners if they are being attacked on the basis of their race. So, it applies to everybody.”

AfriForum het in 2019 en 2021 skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetsontwerp ingedien en in 2022 ’n mondelinge voorlegging voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen waarin die organisasie se kommer oor die wetsontwerp uiteengesit is. Die feit dat Jeffery hierdie haatlike, stereotiperende opmerkings teen Afrikaners gerig het, terwyl hy ook beweer het dat die betrokke wetsontwerp konsekwent deur die ANC-regering toegepas sal word, bewys presies hoekom AfriForum dit nie ondersteun om die regering meer mag te verleen om spraak te polisieer in ooreenstemming met sy duidelike dubbele standaarde nie.

“As mnr Jeffery opreg omgee om alle groepe, insluitend Afrikaners, teen haatlike retoriek te beskerm, sou hy eerstens sy neerhalende opmerkings terugtrek en in die openbaar om verskoning vra, asook sy ANC-kamerade aanspreek wanneer hulle Afrikaners aanval en stereotipeer,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Mnr Jeffery se opmerking tydens dieselfde sitting dat die ANC ‘politieke doelwitte’ het wat hulle met die wetsontwerp wil bereik, is presies hoekom AfriForum dit teenstaan. Hierdie wetsontwerp maak die deur oop vir verdere misbruik deur die ANC om eenvoudig die uitsprake van diegene wat hy wil stilmaak te kriminaliseer, eerder as om werklike haatspraak aan te pak. Dít is die politieke doelwitte waarna Jeffery heel waarskynlik verwys,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings