|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Die burgerregteorganisasie AfriForum het hom vandeesweek toegespits op motoriste se veiligheid. Dié organisasie se buurtwagte in en om Pretoria gaan alles in die stryd werp in ’n poging om die ernstige toename in spykerlokvalle op die hoofroetes te bekamp. Wenke oor wat motoriste te doen staan tydens so ’n lokval is ook bekend gemaak.

Ná die gure weer wat in die Wes-Kaap voorgekom het, het AfriForum ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gestuur oor die veiligheidsrisiko’s op die brug by die Hugenote-tonnel. Dit volg nadat ’n sleepwa én ’n woonwa in twee afsonderlike voorvalle van dié brug afgewaai en nagenoeg 45 m ver geval het. Nóg twee voertuie het ook met die erge wind omgeslaan. Sanral het reeds op AfriForum se brief gereageer en het aangedui dat hulle die organisasie se kommer deel. Hulle het ook aangedui dat hulle stappe oorweeg vir wanneer die winde weer so erg waai.

AfriForum het verder onderneem om volle regshulp te verleen aan die eerste motoris wat die organisasie nader wat gedagvaar word vir historiese agterstallige skuld met betrekking tot e-tolgelde. Die organisasie veg al sedert die begin van e-tol daarteen. Dit is vandeesweek 11 jaar nadat dit inwerking getree het afgeskakel.

Nadat Paul Mashatile, adjunkpresident, en Senzo Mchunu, minister van Water en Sanitasie, aangekondig het dat die regering bereid is om AfriForum en ander rolspelers by die regering se watertaakspan te betrek, het AfriForum versoek dat ’n dringende vergadering tussen die onderskeie partye belê word. Die vergadering is aangevra om die ernstige kwessies rakende waterbestuur en die volhoubaarheid van dié skaars hulpbron in Suid-Afrika onder die loep te neem.

AfriForum verwelkom ook die boete van R200 miljoen wat in die landdroshof in Bethal aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit opgelê is. Dié hof het die munisipaliteit skuldig bevind aan wydverspreide besoedeling van natuurlike waterhulpbronne met rou riool en die wanbestuur van munisipale vullisterreine wat tussen November 2019 en September 2020 plaasgevind het.

AfriForum het weer ’n beroep op die Nasionale Raad van Provinsies gedoen om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) te verwerp, aangesien dit onwenslik en onuitvoerbaar is. AfriForum het verder benadruk dat dié wetsontwerp net verdere druk sal plaas op die reeds swaar belaste onderwysbegroting.

Met die toenemende waterprobleme in Kimberley het die plaaslike AfriForum-tak drie kleuterskole gehelp om fondse in te samel sodat watertenks by dié skole geïnstalleer kan word.

Nadat AfriForum se Welkom-tak self ’n kontrakteur aangestel het om ’n verstopte rioolpyplyn skoon te maak, gaan dié kontrakteur se rekening aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gestuur word. Dié verstopping, wat by die munisipaliteit aangemeld is, het veroorsaak dat ’n bejaarde egpaar se erf enkeldiepte in riool gelê het.

In Centurion het die AfriForum-tak 1,6 ton vullis bymekaargemaak en weggery, 3,5 hektaar se gras gesny en 181 onwettige advertensieborde op sypaadjies verwyder. Die buurtwag het ook vuurwapenopleiding ondergaan.

Die AfriForum-tak in Douglas het sonkragligte aan die Huis Spes Bona-geskenk en opgerig. Die tak het ook vars groente daar afgelewer. Die takke in Prieska en Vaalharts het ook groente aan tehuise in dié dorpe geskenk.

In Benoni het die tak in samewerking met plaaslike organisasies en die gemeenskap die vervalle area op die hoek van High- en Umtataweg, oorkant die Laerskool Brentwoodpark, opgeknap en skoongemaak.

Die tak en gemeenskap in Kempton Park het die Zuurfontein-begraafplaas skoongemaak en opgeknap.

AfriForum se Bethlehem-buurtwag het die plaaslike polisie ondersteun tydens ’n betoging van die organisasie Operasie Dudula.

Soortgelyke plasings