AfriForum versoek dat Eskom-geskille gou besleg word


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag versoek dat die arbeidsgeskille by Eskom wat daartoe lei dat beurtkrag ingestel word, dringend opgelos word.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê dat beurtkrag ’n negatiewe uitwerking op gemeenskappe, verbruikers en die sakesektor het – trouens, op die hele land. Kragonderbrekings gaan boonop meer dikwels plaasvind en langer duur indien die sabotasie en intimidasie voortduur of vererger wat kragopwekkingsbedrywighede tans beïnvloed. Dít ten spyte daarvan dat die kragreus ’n dringende hofbevel bekom het om hierdie soort ontwrigting te verhoed.

“Die Eskom-bestuur het reeds aangedui dat hulle gesprekke met vakbonde wil hervat. Daarom moet werknemers hulself opnuut tot die onderhandelingsproses verbind. Die betrokke partye sal ook moeilike kompromieë moet maak om ’n balans tussen die onderskeie belange te tref.”

Brink het ook versoek dat die kragsektor gedesentraliseer word om privaat kragopwekking te bevorder.

“Dit sal gemeenskappe en verbruikers bemagtig om meer selfonderhoudend te wees.”

Soortgelyke plasings