|

Kyk: Privaatvervolgingseenheid gaan help om geld uit verkooptransaksies terug te kry

“Diewe, ’n klomp misdadigers, gladdemonde, bedrieglike mense, onbetroubaar, oneties en hulle hoort in die tronk.”

Dít is maar enkele beskrywings van moedelose en gefrustreerde inwoners of familielede op Facebook wat aftree-eenhede by Belvedere Trust met ’n lewensregbedrag gekoop het. Die Facebook-groep Belvedere/ Retirewell Action Group poog om mense teen dié trust te waarsku. Dié groep bevat ook verskillende mense se verhale oor hoe hulle glo ingedoen is.

Dr. Cornel Nortier van Nelspruit het aan Forum Nuus vertel dat hy al meer as ’n jaar wag dat die geld van sy skoonma Elsie Grobler se eenheid in Sterlig Aftreeoord in Roodepoort aan hulle uitbetaal word nadat dié eenheid verkoop is. Grobler het sowat 17 jaar in die oord gewoon voordat sy voltydse sorg benodig het. Nortier het reeds ongeveer R80 000 aan regskoste bestee om die geld vir sy skoonma se verkoopte eenheid terug te kry.

Verskeie mense wat eenhede met ’n lewensregbedrag by Belvedere Trust gekoop het of familie van oorledenes wat in van die aftreeoorde gebly het, sukkel om hulle geld terug te kry sodra die eenheid weer deur die trust verkoop is. Dié geld word tydens die koop- en verkooptransaksie in ’n trustrekening inbetaal. Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is die geld veronderstel om in die trustrekening te wees nadat die eenhede verkoop is, maar daar is doelbewuste vertragings met die uitbetaling daarvan.

Daarom is AfriForum se privaatvervolgingseenheid deur die regsverteenwoordigers van oudinwoners of die familie van oudinwoners van Sterlig Aftreeoord genader. Die inwoners moes hulle noodgedwonge tot die reg wend omdat hulle geen terugvoer van Belvedere Trust ontvang nie en ook vir etlike maande nie hulle geld met die verkoop van hulle eenhede in die oord ontvang het nie.

Selma Roberts, ’n prokureur wat Ellie Wehmeyer verteenwoordig wat haar lewensreg reeds in Januarie 2021 wou verkoop, sê al het sy volmag om die verkoop namens haar kliënt te hanteer het Belvedere Trust haar ingelig dat hulle prokureur en agent die verkooptransaksie gaan hanteer. Wehmeyer het in Februarie 2021 die kansellasiedokumente geteken en moes maande later by ander inwoners hoor dat haar eenheid wel al verkoop is.

Roberts het in Desember 2021 die nodige dokumente ontvang wat die verkoop van die eenheid bevestig, maar het steeds geen reaksie vanaf Belvedere ontvang oor wanneer Wehmeyer se geld oorbetaal gaan word nie. Luidens die kansellasie-ooreenkoms sou die geld 30 dae nadat sy uitgetrek het, oorbetaal word.

“Ek het vir tannie Ellie aangeraai om bedrog te rapporteer en prokureursorderapportering te doen, maar tannie Ellie wil nie in litigasie betrokke raak nie weens haar finansiële posisie.”

Volgens André Donk, inwoner van die oord, is dit alombekend dat mense sukkel om uitbetalings van Belvedere Trust te kry en veroorsaak dit dat mense versigtig is om in die oord te kom woon. Die oord het 145 eenhede en aldus Jonk word die heffings byna elke maand verhoog omdat soveel eenhede leegstaan en dit deur die oorblywende inwoners betaal moet word.

Ian Swarts wag reeds vyf jaar vir die geld van sy oorlede ma se eenheid. Volgens hom is dit erg frustrerend en het hy bewyse dat die mense wat sy ma se eenheid gekoop het en reeds in 2018 ingetrek het, wel die geld aan die trust oorbetaal het.

Nog ’n klaer, Bonnie Westermann, wie se ma twee jaar gelede oorlede is, sukkel met die afhandeling van haar ma se boedel omdat die verkoopbedrag van haar ma se eenheid nie oorbetaal word nie. “Dit is baie frustrerend en ons kry nie afsluiting nie.” Westerman sê Belvedere Trust het hulle nie in kennis gestel dat haar ma se eenheid verkoop is nie en al het die nuwe eienaars reeds ingetrek, het Belvedere Trust steeds nie die geld oorbetaal nie.

Mariette Walters se ma se boedel kan ook nie afgehandel word nie. Volgens haar word die beskikbare eenhede nie behoorlik geadverteer nie en derhalwe is haar ma se eenheid nog nie verkoop nie. “My ma se boedel was by FNB, maar hulle het afstand gedoen van die boedel. Daar is nie meer geld in die boedel nie en FNB wil ook nie betrokke raak nie weens die eenheid wat deur Belvedere Trust hanteer word. Ons hande is heeltemal afgekap totdat die eenheid by Sterlig verkoop word.”

“Belvedere Trust voer aan hulle sal die verkoopbedrag ná 30 oorbetaal, maar ons wag al ongeveer twee jaar vir die oorbetaling,” sê Carel Loots. Sy ma (92) moes na ’n eenheid vir verswaktes gaan en hulle het toe sy ma se eenheid in Sterlig oorgekoop. Hulle moes egter die volle bedrag aan Belvedere Trust oorbetaal het waarna Belvedere dan die geld vir sy ma sou oorbetaal.

“Ons het die saak by Bezuidenhout Lak Prokureurs aangegee en die saak sou begin November ongeopponeer voorgekom het, maar Belvedere Trust se prokureurs het egter kort voor die saak se aanvang aangedui dat hulle dit wel gaan opponeer. Belvedere Trust wil nie die geld oorbetaal nie en ons gaan versoek dat hulle rente betaal, asook die onkoste.”

Die privaatvervolgingseenheid het ’n skrywe aan Belvedere Trust gerig om ’n rondetafelgesprek te versoek waarna hulle prokureur Casper le Roux aangedui het dat sy kliënt nie direk gekontak mag word nie en dat hulle nie in die gesprek belangstel nie omdat die privaatvervolgingseenheid nie die mandaat het om die klaers te verteenwoordig nie.

“Ons het die mandate in ’n opvolgskrywe aan die prokureurs voorsien en versoek dat die privaatvervolgingseenheid graag met Belvedere Trust wil kommunikeer aangesien dit blyk dat kommunikasie ’n groot probleem in hierdie aangeleentheid is,” sê Vorster.

Le Roux het hierop geantwoord dat hulle nie belangstel nie en dat die privaatvervolgingseenheid alle moontlike alternatiewe stappe moet volg.

Soortgelyke plasings