|

AfriForum-tak in Sasolburg veg teen verval en help opbou

Die AfriForum-tak in Sasolburg is nie verniet vanjaar by die AfriForum-kongres aangewys as die nasionale Tak van die Jaar nie. Hierdie tak het vanjaar hard gewerk en ’n groot verskil in Sasolburg en Vaalpark gemaak.

Die tak is veral bekend vir hul volhoubare grassnyprojek met die tak se vier groen grassnyertrekkers. Gedurende 2021 het die tak tot dusver 222,4 ha se gras gesny. Dit het hulle R43 700 gekos vir instandhouding en R68 800 vir brandstof en arbeid. Die terreine word ook skoongemaak voordat die gras gesny word.

Slaggate is gereeld reggemaak en 778 slaggate is vanjaar met 1 635 sakkies teer (40,88 ton) herstel. Ongeveer R98 100 is bestee om hierdie slaggate te herstel. Dié tak het vroeër vanjaar tweede geëindig in AfriForum se landwye slaggatkompetisie.

’n Petisie is ook uitgestuur teen die vervalle huis in Van Eckstraat 24 wat ’n wesenlike gesondheids- en veiligheidsgevaar inhou. Die munisipaliteit het onderneem om die eienaar op te spoor en te verplig om die perseel op te ruim, maar nog niks het gebeur nie. Druk word steeds op die munisipaliteit uitgeoefen om in te gryp. Daar word ook druk op die munisipaliteit geplaas om parke wat ook ’n gesondheids- en veiligheidsgevaar inhou, op te ruim.

Die AfriForum-tak het tydens boomplantmaand twee soetdoringbome by die Voortrekkerterrein geplant en twee by Afrikaanse Hoёrskool Sasolburg. Verder help die tak die plaaslike Solidariteit Helpende Hand-tak gereeld om kos te vervoer.

Ná versoeke vanuit die gemeenskap, is daar in Oktober begin om die pretlooparea agter Owen Horwoodstraat, skoon te maak. Die area het ’n groot veiligheidsrisiko ingehou aangesien sluipslapers daar gewoon het en dit ook ’n ideale wegkruipplek vir boewe is wat die omliggende huise teiken. Vullis is verwyder, bome skoongesaag, gras gesny en die paadjies is ook skoongemaak. Hierdie projek is egter nog nie heeltemal voltooi nie en die publiek word gevra om te kom hand bysit. As hierdie projek voltooi is, kan die gemeenskap weer die park gebruik om met honde te stap, asook vir pretstap- en pretloopgeleenthede. Die gemeenskap word versoek om asseblief van hierdie fasiliteit gebruik te maak sodra dit voltooi is. Die tak beoog ook om aksies daar aan te bied.

Die Sasolburg-tak het die behoefte wat ouetehuise in hierdie tyd ondervind raakgesien en daadwerklik begin om hulp te verleen by die Môredou-ouetehuis en Van Riebeek-gemeenskapsentrum. Kos is ingesamel en aan die twee ouetehuise geskenk. Allerhande nutswerk is ook reeds by die ouetehuise verrig, soos watertenks wat vir hulle opgerig en volgemaak is, ’n loopraam en loopstoel is geskenk en talle klein werkies soos krane wat herstel is en vele meer.

Die AfriForum-tak in Sasolburg wil ook hulle dank uitspreek teenoor al die vrywilligers wat kom help het en almal wat ’n bydrae gelewer het tydens hulle projekte. Elke bietjie hulp word waardeer, al is dit ’n botteltjie water of fisiese hulp wat aangebied word.

Volgens Johan Cooks, takvoorsitter, beplan hulle nog groot dinge. “Die nood is groot by van die ouetehuise en ek wil die gemeenskap uitnooi om betrokke te raak. Word deel van AfriForum se Sasolburg-tak sodat ons nog meer projekte kan aanpak.”

“Dit is altyd lekker om take saam met hierdie tak aan te pak, want hulle is so entoesiasties en wil werklik ’n verskil in hul gemeenskap maak. As die hele Sasolburg-gemeenskap by die aksies en projekte betrokke raak, sal Sasolburg baie gou weer ’n spogdorp wees,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1) of skakel 083 230 9073 of 064 634 9741 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings