|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek op verskeie fronte stem dik gemaak om onregte uit te wys, aan te meld en aksie teen die betrokke partye te eis. Die burgerregtewaghond se takke was ook regoor die land besig met allerlei aksies om hul dorpe te verfraai en te beveilig.

Suid-Afrika stuur af op ’n waterkrisis. Verskeie water- en rioolaanlegte in die land funksioneer swak of glad nie. Die departement van Water en Sanitasie (DWS) se eie drinkwatergehalte ontledings dui byvoorbeeld daarop dat 51% van drinkwatersisteme ’n swak of slegte mikrobiologiese watergehalte status het en 71% het daarin misluk om chemiese voldoening te bereik. AfriForum het dus ’n versoekskrif aan die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur vir menseregte op veilige drinkwater gestuur om te versoek dat hulle ondersoek instel en aandag aan dié probleme in Suid-Afrika gee.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake

AfriForum se Parys-tak het ook ’n dringende brief aan Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, gerig oor die waterkrisis in Parys. Sommige inwoners is vir die soveelste keer in hoeveel maande al vir twee weke en langer sonder water. Hy het reeds by ’n vorige geleentheid gesê hy neem verantwoordelikheid vir die probleme, maar niks het nog verbeter nie.

Konsepregulasies is op 19 Mei 2023 in die Staatskoerant gepubliseer oor die uitreik van waterlisensies. As die nuwe regulasies aanvaar word, sal daar in sommige gevalle net lisensies aan ondernemings uitgereik word wat 75% of meer swart eienaarskap het. AfriForum het kommentaar oor die konsepregulasies ingedien wat spesifiek toon dat die regulasies teenstrydig is met die Nasionale Waterwet van 1998.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek klaers in die hof ondersteun waar Tshwane-metropolisielede onder meer op klagtes van intimidasie, roof en ontvoering verskyn het. Adv. Gerrie Nel, hoof van dié eenheid, het by die hof gesê dis tyd dat metropolisielede wat hul mag misbruik aan die pen ry.

Verskeie AfriForum-takke het aan die nasionale massapatrollie deelgeneem. Duisende buurtwaglede, vrywilligers en sekuriteitsmaatskappye het aan die patrollie deelgeneem met die doel om sigbaarheid te verhoog en die oë en ore van die polisie te wees.

In Krugersdorp het die AfriForum-tak padmerke oorgeverf, in Malmesbury het die AfriForum-tak meer as 500 boeke en CD’s aan ’n ouetehuis se biblioteek geskenk en die Wes-Moot-tak in Pretoria het die Japie le Roux-park skoongemaak. By laasgenoemde is die gras gesny en ongeveer 35 sakke vullis verwyder.

Agter van links – Christo Smit, Johan Visser. Voor van links – Suzette Ackermann (Aandskemering), Sonja Caldeira (Aandskemering) en Riana Smit (ACVV)

AfriForum se Strand-tak en die Strand Patrol-buurtwag het ongeveer 1 900 kg troeteldierkos ingesamel en aan die Animal Welfare Society (AWS)en PetPals in die Strand geskenk. Hierdie besluit is geneem aangesien organisasies soos dié se uitdagings nooit ophou wanneer dit by die versorging van diere kom nie.

Ongeveer 1 900 kg troeteldierkos is in die Strand ingesamel en geskenk.

Tegnieke om bloeding te stop is aan buurtwaglede in Centurion geleer wat hulle in staat sal stel om lewens te red. Hulle het onder meer geleer hoe om druk op ’n wond toe te pas en hoe om dit te behandel om bloeding te beheer.

Soortgelyke plasings